Op 6 Julie sal daar ’n tussenverkiesing in Vanrhynsdorp wees.
Daar is vier wyksraadslid-kandidate vir Wyk 7 van die Matzikama-munisipaliteit vir wie plaaslike kiesers kan stem.
Christo Boks, ook bekend as Kito, is die Demokratiese Alliansie (DA) se kandidaat, Hazel Elaine Daniels is die African National Congress (ANC) se kandidaat, die Economic Freedom Fighters (EFF) se kandidaat is Desmond Dennis Pula, of kiesers kan hul kruisie langs Rodney Brian Lakay se naam van die Patriotiese Alliansie (PA) trek.
Die registrasienaweek het reeds op 21 en 22 Mei plaasgevind.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het aansoeke vir die spesiale stemproses vir kiesers met fisieke gestremdheid of uitdagings reeds 24 Junie gesluit. Die tuisbesoeke vir spesiale stemme sal op 5 Julie plaasvind.
Op ’n openbare vergadering verlede week het die DA se federale voorsitter, Anton Bredell, inwoners aangemoedig om vir Christo Boks Kito te stem.
“Die DA is baie gelukkig om Kito as kandidaat vir wyk 7 te hê,” het Bredell gesê.
“Die huidige Matzikama-raad het begin om die skip om te draai, maar dit neem tyd. As ons wil aanhou bou, moet ons vir Kito stem.”
Bredell het kiesers gerusgestel en aangevoer dat Kito integriteit het en gesê Kito het bedank as PA-raadslid “toe hy sien dat daar agendas is om die dorp aan die ANC terug te gee”.
“Die Matzikama-munisipaliteit het geweldige potensiaal,” het Bredell gesê, “maar ontwikkeling en beleggers sal slegs inkom as daar stabiliteit in ons plaaslike regerings is.”
Die ANC se Neville Delport van Vanrhynsdorp het die gemeenskap aangemoedig om eerder vir Hazel Daniels te stem.
“Die DA het vir die afgelope 15 jaar net leë beloftes gemaak,” reken hy.
Kiesers kan in die Vanrhynsdorp-stadsaal, Vanrhynsdorp-gemeenskapsaal, Masibambane-veeldoelige saal, die Hoërskool Vanrhynsdorp of by Urionskraal in Urionskraalweg, Sandrivier, stem.





