’n Hoërskool wink vir Darling.
Dié nuus is onlangs deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) bevestig nadat sommige inwoners van die dorp hul misnoeë uitgespreek het toe inwoners van ’n skoolkoshuis gevra is om ’n ander heenkome te begin soek.
Die koshuisgebou, wat langs die Laerskool Darling geleë is, se fasiliteite is volgens die WKOD nie vir die huisvesting van leerders gebruik nie.
Die koshuis se fasiliteite, wat deur die laerskool bestuur word, is daarom voorheen aan inwoners vir verblyf verhuur.
Intussen is met die laerskool ooreengekom dat die fasiliteite in die toekoms as ’n hoërskool gebruik sal word.
“Die WKOD bly daartoe verbind dat Darling gedurende 2023 ’n hoërskool sal kry,” sê Bronagh Hammond, die direkteur van kommunikasie.
Dit is juis om dié rede dat die laerskool die betrokke inwoners van die koshuis kennis gegee het om die perseel te ontruim.
Werknemers by die WKOD se distrikskantoor in Malmesbury het ook intussen van die koshuis se fasiliteite gebruik begin maak terwyl opknappingswerk aan hul bestaande kantoor gedoen word.
Verdere inligting rakende die hoërskool is nog nie bekend gemaak nie.




