“Daar is lig aan die einde van hierdie tonnel,” het pres. Cyril Ramaphosa in 2015, toe hy nog adjunk was, aan die lede van die Parlement oor die land se elektrisiteitskrisis gesê.
Vandag is hy die president en steeds lewer hy niks anders as lippediens nie; dit is meer praatjies as enigiets anders – praatjies oor ons gaan nog, of ons is besig om te kyk na dit en dat. Geen praktiese plan, strategieë of oplossings word aan die land duidelik gemaak nie – ons word in die donker(te) gelaat.
Jare later het ons steeds geen “lig aan die einde van hierdie tonnel” nie, meneer die president. Steeds sit ons maar hier en wag tot wanneer dit ons “beurt” is om elektrisiteit in ons huishoudings te hê. Dit het nou al die norm in Suid-Afrika geword.
Ek is al eerlikwaar op daarvan om my beurt af te wag vir iets soos elektrisiteit. Dit bring eintlik ’n baie bekende gevoel terug, waar jy vir meer as vyf ure in ’n ry jou “beurt” moet afwag by ’n kantoor by binnelandse sake – en dit net vir ’n aansoekbrief vir ’n identiteitsdokument.
Of wanneer jy vir vyf ure in ’n ry jou “beurt” moet afwag net om ’n dokter of verpleegster by ’n staatshospitaal of kliniek te spreek. Wanneer jy vir langer as vyf ure in ’n ry jou “beurt” moet afwag voordat ’n polisiewa jou in ’n tyd van nood kan kom help.
Nietemin, dit is glad nie normaal nie. Dit kan nie die norm wees nie, iewers moet ’n streep getrek word. Iewers moet iemand die politieke wil hê om Eskom se kragkrisis ’n nasionale ramp te verklaar en ’n prioriteit te maak.
Dit raak almal van ons
Die hartseer is natuurlik dat hierdie krisis almal van ons raak. Dit raak die man op straat. Dit raak die kind wat môre moet skool toe gaan. Dit raak die ma wat vroegoggend in die donker moet werk toe stap. Dit raak selfs die middelklasman, dit raak die sakeman, en veral dié wat klein ondernemings bedryf.
Ons ekonomie kan daarmee saam ook nie die druk langer verduur nie. Asof die Covid-19-pandemie nie reeds genoeg skade aangerig het nie, moet ons ekonomie nog verder agteruitgaan as gevolg van ’n gebrek aan sterk leierskap – ’n gebrek aan praktiese en doeltreffende oplossings.
ANC is verantwoordelik
Prof. Jonathan Jansen, uitgelese professor aan die Universiteit Stellenbosch (US), twiet vandeesweek “snaaks dat ’n land met soveel slim mense in besigheid en wetenskap nie die elektrisiteitsprobleem kan oplos nie”.
Die probleem en ironie lê glad nie by hierdie kundige mense nie, prof. Jansen. Dit lê by die regering wat aan bewind is. Die vraag wat ons eerder moet vra, is hoekom is hierdie mense nie in kernrolle binne die regering nie?
Wel, ek dink ons almal ken reeds die antwoord op dié vraag – al hierdie poste word slegs vir ANC-vriende en -kaders beskikbaar gemaak. Hoofregter Raymond Zondo se verslae oor die staatskaping bewys dit.
Eskom het mos, soos die meeste ander staatsentiteite, baantjies vir boeties geword. Jy kry die pos as jy op goeie voet met die ANC is.
Ongelukkig is dit die gewone landsburger wat aan die kortste ent trek wanneer dinge skeefloop (soos nou) omdat die mense in hierdie strategiese poste glad nie opgelei is om die strategiese werk te verrig nie.
Die regering se onvermoë om Eskom reg te ruk en doeltreffende mense in kernrolle te plaas, spreek van sy gebrek om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid vir dié groot krisis te neem.
Regering aanvaar geen aanspreeklikheid nie
Selfs Gwede Mantashe, die minister van mineralebronne en energie, weier om aanspreeklikheid te aanvaar nadat hy onlangs aangevoer het dis “onbillik” om hom of die regering die skuld vir die huidige kragkrisis te gee.
Dit is dieselfde minister wat homself in sy prestasieooreenkoms met pres. Ramaphosa verbind het “om die energiebeskikbaarheidsfaktor by Eskom te help verbeter om te verseker dat daar wel volgehoue elektrisiteitverskaffing is”.
Nou wonder ’n mens darem regtig wie die skuld moet kry as dit “onbillik” is om ministers soos Mantashe of die regering vir hierdie krisis verantwoordelik te hou? Is Eskom dan nie in die hande van die regering nie?
Raak ontslae van rampokkers
Die beste oplossing wat ons nou het, is om van hierdie spul rampokkers ontslae te raak. Ons kan nie langer net vaskyk in die rol wat die ANC in die pad na demokrasie vervul het nie; ja, ’n mens kan die ANC daarvoor bedank, maar duidelik kan ons hom nie elke keer by die stembus bedank nie – kyk wat kry ons terug!
Nóú, meer as ooit, kort ons ’n regering wat sy mense eerste sal stel.
Ons kort ’n regering wat ons land, sy ekonomie en elke krisis soos die kragkrisis kan red. Ons kort lig aan die einde van hierdie tonnel.


