Die West Coast Youth Orchestra (WCYO) Jazz Band is onlangs genooi om by die Jeug Jazz-fees in die Kunstekaap-teater op te tree.
Die plaaslike musiekmakers is een van agt orkeste wat na die fees genooi is. Die groep meen dit was voorwaar ’n wonderlike ervaring en ’n eer om deel van hierdie gesogte geleentheid te wees.
Keith Tabisher van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het aangekondig die musiekfees sal voortaan ’n jaarlikse instelling wees.
WCYO se nuutaangestelde tutor en mede-dirigent, Shadé Jansen, was aan die stuur van die Jazz-band. Sy het onlangs by die orkes-span aangesluit, maar die bestuur meen sy was soos ’n vars luggie en het die Weskus-orkes in ’n baie kort tyd vir die optrede voorberei.
“Ons is gelukkig om haar as deel van ons span te hê. Sy het onlangs aan die Universiteit van Pretoria gegradueer met ’n meestersgraad in musiekkomposisie en is tans besig om oorspronklike stukke vir die orkes te komponeer, wat later in die jaar uitgevoer sal word,” het die WCYO-span laat hoor.





