Soek vir daai oomblikke waar jy weer die vreugde kan terugsit in jou siel.

Skep daai tye waar jy weer kan skaterlag uit jou maag en veg vir jou daaglikse porsie vrede. Ek weet nie van jou nie, maar ek het nodig om dit deesdae al meer in aksie te stel en dit ’n daaglikse ingesteldheid en roetine te maak.

Noem dit doepa vir die siel, ankertjies vir die onweersdae of sommer net wat jy wil.

Solank daai lekker ding wat jy doen of ervaar, net weer die vreugdestenkie volmaak, want wraggies, doen ’n mens dit nie, gaan Eskom en die lot daai laaste bietjie lewenslus, vrede en vreugde uit jou wurg. My tenkie (nee, nie my petroltenk nie) het juis so ’n paar weke gelede daai behoorlike opvul ontvang.

My kuier saam met twee goeie vriende, wat ek baie lanklaas gesien het, het die truuk behoorlik gedoen. Die kuier was kort, maar kragtig.

Dit was een van daai kuiers waar daar nie ’n tekort aan skaterlag was nie, en al het ons mekaar lanklaas gesien, voel dit asof ons nie ’n dag van mekaar geskei was nie. Die inhaal van die draaie wat die lewe met ons almal loop, word met lus gedeel. Dan nog ’n onthou-en-lag-oomblik dat jy amper ’n tekort aan asem ervaar. En met elke staaltjie, elke porsie wysheid wat gedeel word en lesse geleer uit toe en nou, het ek amper gewens ons het ’n volle naweek gehad om langer te mag vashou aan daardie sielshelende ruimte.

Nog ’n lekkerkry- en lekkervoel-oomblik is toe ek met groot genoegdoening vir “oom-gee-my-krag” sommer so ’n lekker dwarsklap kon gee op een van daai dae toe die kragwoorde net die tong en mond wou verlaat. Toe my stopteken – haal diep asem; tel stadig tot by twintig en neem jou mag terug.

Vir die volgende paar ure gaan daar nie krag wees, maar jy het in jouself die krag om beheer oor die situasie uit te oefen. My voete het koers gekry na die jeugsentrum so ’n ent weg van waar ek woon. Dis vakansietyd vir die skoolkinders. Daar is ’n vakansieprogram op die spyskaart vir die dag. En glo my, daar is niks so lekker vir myself as om die vrolike spontane uitdrukkings van kindergesiggies in aksie te sien nie.

Ek kon weer saamspeel en lag.

Te oordeel aan die skaterlag van die kinders, wil ek glo dat my danspassies tydens die ysbreker-deel nie té sleg was nie. Die inheemse speletjies het die adrenalien verder laat pomp. En in daai oomblik verdwyn die sorge van ’n spertyd wat gehaal moet word; word my dag heerlik anders ingekleur as wat ek verwag het.

En my vrede- en vreugdesbekertjie loop oor. Ek het ’n huppel in my stap terug huis toe, en teen daardie tyd is daar weer krag en lig en pak ek my dag verder met vreugde aan.

Een van die goeters wat deesdae soos ’n klippie in die skoen krap, is my dissipline rakende lees. Ek praat nie van daai vinnig deur die dag se sosiale platform-inskrywings lees nie.

Nee, ek praat hier van ’n goeie boek in die taal van jou keuse neem en lees, of om daai tydskrif of koerant van voor tot agter deur te lees. En was dit nie ’n lekker gevoel om weer daai gewoonte af te stof en deel van my daaglikse doen-lysie te maak nie?

Horisonne verbreed. Nuwe kennis word bygebring en die siel is gevoed. As ’n bonus kom daar nuwe inspirasie by, want my eie potlood is weer skerp.

Vir my is die harde les geleer dat ons so vasgevang kan raak in ons eie pas voor die skootrekenaar, in die kantoor, by die huis met al die verskillende dinge en pligte wat nagekom moet word, dat ons soms die ander ewe lekker doen-goed afskeep – soos om te lees vir die lekkerte daarvan.

My groen vingers is hier in die hartjie van die winter ook weer aan die woel. Die groen-ertjies hou mooi belofte in, en dan het ek sommer vir die mooigeit daarvan ’n klompie sonneblomsade geplant. Ek’s seker dit sal iemand se hart bly kan maak as dit uiteindelik sy goudgeel blom in volle prag begin deel.

Daar is die dae dat die gemoedsbollie sommer vir alles en almal die oorhand wil kry.

Nee wat, dan karaoke ek sommer in ’n japtrap daai onweerswolkies weg, gooi ’n stukkie vleis oor die kole, skink ’n glasie port en die lewe is weer ’n fees. Vir my is dit die gees van Suid-Afrikaners. Ons laat ons nie sommer deur enige dwarswindjie van koers af kry nie. Nog minder laat ons toe dat mense of omstandighede ons vreugde en vrede steel.

Nee wat, ons draai die volumeknoppie harder en kappityt saam met Bok van Blerk se “wys my jou lemoene en jou boerpampoene”!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article