Wyle Rosie KleinsmithFoto:


Rosie Kleinsmith sal nou nooit die geleentheid hê om haar nuwe huis voltooid te sien nie.

Dié inwoner van Langebaan is Donderdag 7 Julie oorlede net voordat haar huis, wat in 2019 in ’n brand verwoes is, ten volle herstel kon word.

Die aktivis Carmen Rodgers, wat ook in Langebaan woon, het die projek vroeër in Junie aangepak om Kleinsmith ’n woning te gee waarop sy trots kon wees en haar eie kon noem.

Kleinsmith se familie het haar beskryf as ’n reguit mens wat altyd vol grappe en baie vriendelik was, maar ook iemand wat altyd gewillig was om te help. Die familie sê hulle gaan haar hartlike glimlag mis.

Rodgers sê dis vir haar baie hartseer dat Kleinsmith nie in haar laaste oomblikke in haar nuwe huis kon woon nie, “maar ek het haar op haar sterfbed verseker dat sy nie bekommerd hoef te wees nie”.

Rodgers het foto’s en video’s van die herstelwerk met haar gedeel sodat sy die vordering kon sien. “Sy was baie gelukkig en het gevra dat ek hierdie mense wat help en skenk almal hartlik bedank. Ek het haar verseker ek sal steeds my belofte aan haar nakom ter wille van haar kinders en kleinkind,” vertel Rodgers.

Rodgers sê sy gaan Kleinsmith se besoeke aan haar baie mis en sal die lesse wat sy by haar geleer het, toepas.

Kleinsmith laat twee kinders, een kleinkind, vyf susters en drie broers agter.

Die begrafnis sal Saterdag 16 Julie by die Beacon-kerk in Langebaan plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article