Weskussers word gevra om hul harte en beursies oop te maak om die Fourie-gesin van Gauteng te help waar hulle kan.
Eduard en Petricia Fourie se 17-jarige seun, Eduan, ’n graad 11-leerder aan die Hoërskool Porterville, is Donderdag 16 Junie ernstig beseer in ’n fratsongeluk in Melkbosstrand.
Eduard het aan Weslander vertel dat sy seun en twee skoolvriende gestap het om iets te gaan koop om te eet toe al drie deur ’n voertuig getref is wat beheer verloor het nadat dit teen ’n ander voertuig gebots het.
Een van die drie maats, Raylan Theron, is die volgende oggend, 17 Junie, in die Netcare Blaauwberg-hospitaal oorlede. Die ander maat, Chris Tosen, het harsingskudding en gesigbeserings opgedoen, maar is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Die ongeluk het Eduan met verskeie beserings gelaat. Hy is na die New Somerset-hospitaal geneem en later na die Groote Schuur-hospitaal se hoësorgeenheid oorgeplaas. Sy kakebeen is op minstens drie plekke gebreek, sy regterskouer en knie is uit potjie geruk en ongeveer vyf ribbes is gebreek.
“Nadat ’n MRI-skandering gedoen is, is vasgestel dat die meeste van sy ligamente afgeskeur het.
“Skanderings het ook gewys dat hy skade aan sy longe weens die gebreekte ribbes opgedoen het.
“Hy het ook beserings aan sy lewer en niere opgedoen,” vertel Eduard.
“Nadat ons die nuus gekry het van die ongeluk en dat een beseer is, het die feit dat ons nie geweet het wie dit was nie, ons ongelooflik benoud gehad.
“Daar was tog groot verligting toe ons telefonies met hom kon praat. Die feit dat ’n mens 1 500 km ver weg is, laat jou hulpeloos. Die verlies van sy vriend was vir ons ’n groot skok.”
Eduan se ouers woon in Pretoria-Noord en het sonder huiwering dadelik Kaap toe gevlieg om hul seun by te staan.
“Eduan het ’n 14-jarige broer, wat in Pretoria agtergebly het. Sy ouma en oupa kyk na hom. Die kostes om twee huishoudings te onderhou, is astronomies.”
Die Fourie-gesin het nie ’n mediese fonds nie en hulle sal alle prosedures, hospitaalkostes en fisioterapie self moet dra.
“Enige hulp van die Weskus-gemeenskap sal opreg waardeer word. Hierdie is nie ’n maklike situasie waarin ons ons nou bevind nie.”. Enigiemand wat ’n bydrae wil lewer, kan Eduard by 082 320 0480 bel.




