Die adjunkspeaker van die SBM-jeugraad, Daniella van Niekerk.


Daniella van Niekerk het groot dankbaarheid vir die geleentheid wat sy ontvang het om as adjunkspeaker van die Saldanhabaai-munisipaliteit se jeugraad te dien.

Dié leerder aan die Hoërskool Hopefield het haar pos in Junie vanjaar ingeneem. Van Niekerk vertel alles het begin toe die gr. 10-leiers van hul skool ’n versoek uitgesit en gevra het wie die skool in die jeugraad sal wil verteenwoordig.

“Ek was die eerste wat die geleentheid aangegryp het, en ons het ’n paar weke daarna gehoor ons is na die eerste vergadering genooi,” vertel Van Niekerk.

Sy sê omdat dit haar eerste jaar is wat sy as ’n lid dien, het sy met die ingesteldheid gegaan dat sy niks moet verwag nie, maar eerder vir die posisie moet werk. Sy het deur al vier rondes van die keuring gegaan om uiteindelik die posisie as adjunkspeaker te verkry.

Volgens van Niekerk sien sy daarna uit om die stem vir jongmense in die Weskus te wees. “Ek sien uit om ’n verskil saam met my mede-lede in die raad te maak en mekaar beter te leer ken. Dit gee my die geleentheid om myself te verbeter en my kennis te verbreed.”

Sy glo ook aksies tel meer as woorde en wil sien hoe die jeugraad se planne nie net bekend gemaak word nie, maar werklik geïmplimenteer word. “Dit is belangrik dat almal bereid is om hul kant te bring om sukses te behaal.”

Die jeugraad-leiers bestaan tans uit vier vroue, en van Niekerk sien dit as ’n geleentheid om aan die wêreld te bewys wat vroue kan doen. “Ek sien baie uit om saam met hulle te werk en as vroue nie terug te staan vir enige uitdaging wat in ons pad staan nie.”

Haar raad aan jongmense in die Weskus is om so lank as moontlik kind te wees. “Grawe ’n gat by die strand, gaan ry fiets of eet jou gunstelingroomys. Daar is twee dinge wat ons nooit kan terugkry nie – ons tande en ons kinderjare. Daar sal nog baie tyd wees in die toekoms om grootmens te wees. Geniet dit terwyl julle nog kan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article