Die land is in sy peetjie. Ons is gatvol vir paaie met slaggate so groot soos Kimberley se gat. Ons kinders kan nie eens meer ordentlik lees en skryf nie. Ons mense sterf soos vlieë in die townships terwyl net nog ’n kommissie van ondersoek aangestel word om die laaste paar miljarde wat weggeraak het, op te spoor. Nog ’n trein het ontspoor en ons sukkel om by die werk uit te kom.
Dis asof ek die stemme van miljoene mede-Suid-Afrikaners hierin kan hoor – stemme wat al bykans moeg gepleit is om die verandering in ons land te sien en te beleef waarna almal van ons post-’94 so uitgesien het. Dis bykans dertig jaar hierna en dit voel asof dinge net vererger; asof die liggie in die tonnel al flouer begin raak. Dis asof die alledaagse bestaan in ons mooi land in ’n riller-rolprent ontaard en jy wens alles wil net tot ’n einde kom, want hoeveel kan ons nog verdra en verduur?
En vir ’n oomblik het ’n mens nodig om die riller-rolprent onder die vergrootglas te plaas en probeer sin maak wat tot die huidige toedrag van sake bygedra het. Dis nie moeilik om tot ’n voorlopige of finale gevolgtrekking te kom dat ons die huidige stand van sake in ons mooi land gedeeltelik of volledig voor die deur van hulle wat veronderstel is om die sake van die dag namens ons landsburgers te bestuur (makro-vlak) te plaas nie – ons politieke leiers; daai manne en vroue vir wie ek en jy gestem het. Baie word en is al gesê oor die groot mate van onbeholpenheid, onkundigheid en sommer plein slapgattigheid wat by hierdie groep in ons Suid-Afrikaanse politieke landskap bestaan en wat ons verkiesing ná verkiesing hoop en vertrou die land se sake na behore sal bestuur. Deesdae wonder die meeste van ons seker of die moontlikheid daarvan ooit tot sy volle reg sal kom. Die pakkies van uitnemendheid wat in ons huidige politieke landskap bestaan, lyk maar bitter skraal.
Met Madibadag nog vars in die geheue wonder ’n mens al meer of die ware vooruitgang vir ons land nie juis hierin lê nie – in die hande van gewone Suid-Afrikaners wat al meer hul stem laat hoor, maar ons land meer nog deur hul optrede kan maak werk. Ons mense is honger vir goeie nuus; honger om uit te styg bo die verstikkende klaagliedere wat elke dag in ons land afspeel.
Madibadag kom herinner baie van ons net weer daaraan; die wonderlike, magiese samehorigheidsgevoel wat die dag steeds vir soveel Suid-Afrikaners meebring en inhou – om goed te doen; om ’n verskil te maak en om dit op skou te sit vir ons almal om te waardeer. Is dit egter genoeg? Dalk nie, maar dit is vir seker ’n goeie aanknopingspunt om die krag wat in ’n land en sy mense lê, ten toon te stel. Ek wil my verstout om te sê meer daarvan is nodig in die tye en era waarin ons ons as ’n land bevind.
Wyle tata Madiba was die toonbeeld van dít wat ons as nasie vandag meer as ooit tevore so broodnodig het. Hy was iemand wat die hand na ander uitgereik het en wat opgestaan het teen onreg wat plaasgevind het; iemand wat ’n nasie kon verenig op soveel verskillende vlakke en wat daarna gestrewe het dat die lewe vir elke Suid-Afrikaner beter word en nie slegter nie.
Met die huidige morele diskoers wat so duidelik in ons mooi land te bespeur is, het dit tyd geword dat elke gewone Suid-Afrikaner, binne die raamwerk van ons Grondwet en ander landswette, ons stemme duideliker laat hoor – in so ’n mate dat ons politieke leiers sal besef die tyd vir politieke magspeletjies is lankal verby, want ons mense se lewe ly daaronder en ons grondwetlike regte en voorregte word daardeur verkrag. Ek wil my verstout om te sê ons mense is moeg daarvoor om deur politieke opportuniste, wat verkiesing ná verkiesing net leë beloftes maak, aan die neus gelei te word; dat ons mense oor die intelligensie beskik (al is dit ná amper drie dekades) om deur die stikkende geraamtes te sien en die regte ding te doen en as nasie saam te staan en ons mag te wys en ons stemme te laat hoor teen dié wat dink hulle sal die septer vir ewig met hul skadelike en skandelike magsvergrype kan swaai.
Duidelike tekens van hoe ons nasie kan saamstaan, is legio. Covid-19 is ’n bewys daarvan. Vloedskade en droogtes het beklemtoon dat die welwillendheid onder Suid-Afrikaners eg en patrioties van aard is. En as die slaggate in ons mooi dorpe blykbaar nie meer die verantwoordelikheid van die plaaslike regering is nie, dan spring ons mense self in en kry die werk gedoen. En mag die partye wat eintlik hiervoor verantwoordelik is, sommer skaam kry (dis as hulle nog enige greintjie skaamte oor het) en aanteken vir daai opvolgkursus oor hoe om ’n munisipaliteit of land te bestuur. Ons geduld is en word tot die uiterste beproef. Ons land en ons mense verdien beter.
“Long live the spirit and legacy of tata Madiba, long live!”





