Twee inbrekers is Maandagoggend in Hoërskool Louwville se dak, waar hulle weggekruip het, betrap.

Emile Petrus, die skoolhoof sê hy was al vroeg Maandagoggend, voor die skooldag begin het, op die perseel en hy en sy kollegas het gou agtergekom alles is nie pluis nie.

’n Deur van die saal het oopgestaan en daar was toerusting op die verhoog wat nie daar moet wees nie.

Petrus sê hulle het die vermeende inbrekers in die saal gesien.

Die verdagtes het dadelik weggehardloop toe hulle besef dat hulle gesien is.

Petrus sê daar was drie inbrekers waarvan twee gevang is en die derde een weggekom het.

Die inbrekers het glo wegkruipplek gesoek nadat hulle gesien is en volgens Petrus het hulle lelike gate in die plafon gemaak om in die dak te kom om daar weg te kruip.

Die polisie is ontbied en die skoolpersoneel het daarin geslaag om een van die inbrekers uit die dak te kry. ’n Tweede een is deur die Vredenburg-polisie opgespoor en uit die dak verwyder.

“Ons opregte dank aan die polisie,” het Petrus gesê.

“Meer as R200 000 se skade aan die skool veroorsaak.”

Daar is na wat verneem word is skade aan die bedrading, water- en rioleringspype en die plafon aangerig.

Volgens kaptein Tania Helfrich, die woordvoerder van Vredenburg-polisie is die twee verdagtes teen Maandag om 09:30 vasgetrek. Koperkabels ter waarde van R3 000 en R60 se sjokolade is in die verdagtes se besit gevind.

Helfrich sê albei verdagtes is “bekende misdadigers” wat al voorheen ook met die gereg gebots het.

Die mans sal later vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Hoërskool Louwville is ’n geenfooie-skool en Petrus hoop die onderwysdeparte­ment sal hulle finansieel kan bystaan om die skade aan die skool te herstel.

Benewens die skade is daar ook ander noodsaaklike werk en verbeterings wat by die skool gedoen moet word. Petrus sê geldinsamelings word beplan om in hierdie behoeftes te voorsien.

. Enige sakeonderneming of individu wat ’n donasie of skenking aan die skool wil maak vir herstelwerk of verbeterings word vriendelik versoek om Emile Petrus by 082 462 6972 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article