Ná die markchaos van die eerste semester vanjaar is dit ironies dat Julie tradisioneel as nasionale spaarmaand beskou word. Julie is ook ’n baie gewilde maand op die plaaslike jagkalender.
Die jagkuns en die beleggingsproses deel unieke vaardighede wat veral in hierdie uitdagende tye belangrik is:. Navigasie: As jagter kan jy nie blindelings in die jagveld ronddwaal nie. Jy moet ’n duidelike plan en einddoel hê.
Net so moet jy as belegger ’n duidelike langtermynstrategie implementeer, wat voorsiening maak vir moeilike omstandighede in die kort termyn. Vertroue in hierdie strategie in ongunstige tye is van kardinale belang.. Stamina en geduld: In die jagveld gaan dit nie altyd soos jy verwag nie. Goeie jagters is geharde individue, want dit is riskant om die gemak van daaglikse lewe vir die jagveld te verruil. Die vermoë om in verskillende omstandighede sterk te staan, is belangrik. Konstante, positiewe groeiperiodes vir ’n beleggingsportefeulje is ’n mite – jy gaan ook tye van beduidende negatiewe prestasie ervaar.. Boskennis: Jagters moet gemaklik wees met die omgewing en veldtoestande, en moet oplet na tekens in die veld. Ondervinding skep selfvertroue, wat op sy beurt tot gemak lei. Gebruik al jou sintuie en moenie bang wees om die nodige vrae te vra nie. Só sal besluite wat halsoorkop geneem word, vermy word.. Benut die geleenthede: Hoewel geduld belangrik is, het jy beperkte tyd in die veld om mee te werk. Om vir die grootste bok in die visier te wag, gaan dit waarskynlik ’n onsuksesvolle uitstappie maak. Gebruik die goeie beleggingsgeleenthede wat opduik, al is dit nie noodwendig die grootste koedoe in die kamp nie.. ’n Skootjie geluk: ’n Suksesvolle jagtog het soms ook ’n skootjie geluk nodig. Jy moet egter seker maak jy is in die regte posisie om die vrugte te pluk. Jy sal dit net kan doen as jy jou visier wyd stel en jou opsies oophou. Dit help nie jy fokus op slegs een aspek van jou portefeulje met die hoop dat dit dié bok met die goue horings gaan wees nie – jy moet diversifiseer en meer as een geleentheid skep.. Skietkuns: Laastens is die belangrikste vaardigheid vir ’n jagter die vermoë om te kan korrel. Daarsonder beteken die res van jou vaardighede nie veel nie. Hier en daar moet jy ook akkurate en fyn verstellings kan maak soos nodig. Die regte beleggings binne die toepaslike raamwerk vir jou unieke situasie en markomgewing is uiters belangrik.. Kris Swart, CFA®, is ’n welvaartbestuurder by PSG Ceciliastraat, Paarl. E-pos: Kris.Swart@psg.co.za
Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting en die voorbeelde is slegs ter illustrasie.
Dit is nie finansiële,
belasting-, regs- of beleggingsadvies nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. Geaffilieerdes van die PSG Konsult-groep is gemagtigde finansiële diensverskaffers.





