Die klubrugbyseisoen is dalk weer ten volle aan die gang, maar Hopefield-rugbyklub sê hy sien nie kans om besoekers te ontvang nie.

Volgens CJ September van die klub kom die frustrerende en ongemaklike situasie nadat die sportgeriewe by die Ronnie Louw-sportterrein in Maart deur vandale verniel is. September sê die vandalisme is by die Saldanhabaai-munisipaliteit aangemeld, maar tot nou is daar nie veel aan gedoen nie.

“Ons, die Hopefield-sportgemeenskap, verwag baie meer van die Saldanhabaai-munisipaliteit. Die Hopefield-gemeenskap word soos tweedeklasburgers behandel. Wat moet ons doen om ’n reaksie uit die plaaslike munisipaliteit te kry?” wil September weet. Vandalisme van munisipale infrastruktuur is lank reeds ’n probleem. Benewens bates soos sportgeriewe wat onder vandale deurloop, is die skade aan en diefstal van kabels en waterpompe ook ’n gereelde probleem.

Weslander het verlede maand berig die vandalisme by munisipale infrastruktuur het die Saldanhabaai-munisipaliteit die afgelope vier jaar R45 miljoen gekos.

In Hopefield is erge skade aan die kombuis en storte aangerig en net beperkte ligte en toilette bly oor.

By navraag het Ethne Lawrence, ’n munisipale woordvoerder, gesê die skade by die Hopefield-terrein beloop tussen R95 000 en R110 000.

“Intussen word tydelike herstelwerk aan sekere gedeeltes van die sportgeriewe gedoen en die munisipaliteit is tans besig om verdere herstelwerk te doen,” het sy bevestig. September meen die beste sou wees om nou ’n sekuriteitsbeampte aan te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article