Ek weet nie wie almal met my gaan saamstem nie, maar ek wil glo dat daar ’n spesiale plekkie vir al ons dierekinders in die hiernamaals is. My lewendige belangstelling om tog iewers my pen en ink die praatwerk te laat doen oor die onderwerp van diere kom nou al ’n geruime tydjie aan.
Kyk, dis nou nie asof ek ’n sluimerende droom het om nog eendag ’n veearts te word nie. Dis bloot my liefde vir diere wat ek glo spesiale vermelding en erkenning verdien. Dis ook nie asof ek die baas van ’n klomp honde, konyne, reptiele of Siamese katte is nie. Nee, want die grootte van my huurwoonstelletjie laat dit net nie toe nie. Dat ek wel die verwysing het van die keer toe ek die eienaar van ’n pragtige gemmerkat was, is wel waar.
Dit was ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. En tot vandag toe het ek ietwat gemengde gevoelens oor hoe ek gevaar het as die eienaar van kietsie kat. As ek nou moet terugkyk, sou ek sê dat ek darem nie te sleg gevaar het nie. Ek moes dalk ’n bietjie meer navorsing oor ons katspesie gedoen het voordat ek ja gesê het vir die oulike geskenkie van my suster af. My gemmerkat het sommer gou my woonstel vrolik ingekleur met al sy liefde en aandag aan sy nuwe eienaar.
Die dele wat ek nie so lekker kon verstaan het nie, was die reukies wat uit my ingeboude kaggeltjie in die leefvertrek gekom het. In dieselfde leefvertrek sal ek by tye ook smiddae voëltjievere en bloetspatsels vir Afrika vind. En wie het dan nou, ná ’n lang dag by die werk, lus om te kom vee en mop? Die kersie op die koek was dit wat in die kombuis gebeur het. Dieter (my gemmerkat) kon net nie sy pootjies en mondjie van my “baby hake” weghou nie wat ek die oggend op die kombuis wasbak geplaas het om te ontdooi vir die aand se afbak. Hard praat het net soms gehelp. En aanhou kwaad wees het glad nie saamgespeel nie, want vanaand het hy maar weer by my voetenend kom inkruip en die mooiste sagste katprul geluidjies gemaak. Ek moes maar meer navorsing gedoen het oor my Dieter se geite en dinge. Ek moes hom uiteindelik in die sorg van die bure laat toe ek die werksaanbod oorsee aanvaar het. Ek het altyd bly wonder of Dieter oraait sonder sy baas sal wees.
Die van ons wat diereliefhebbers is, sal die groot rol en vreugde verstaan wat hierdie vierpotige vriende (kinders) van ons vir die siel en gemoed kan inhou. Of dit nou ’n katkind of ’n lewenslustige jack russeltjie is. Wel, die lysie kan seker nog aangaan, maar laat ek maar eers volstaan met die twee. Wat die hondespesie betref, sal my keuse eerder by jou spesie bly wat gemaklik kan aanpas by die wel en wee van ’n huisgesin. Met liefde en respek gesê, los maar die boerboel-spesie en die se naasverwante vir iemand anders. Seker maar my liefde vir vrede en harmonie wat iets hiermee te doen het. My mens wees resoneer beter met my suster-hulle se huishondjie wat ook nou al ’n geruime tyd in die hondjiehemel is. Hy was die tipe hond wat die mense by die kafeetjie op die hoek en in die kerk al so goed geken het. Hy’t bloot net vreugde gebring, oral waar jy hom sien.
En in die pandemietyd was dit ook ons dierekinders wat daai erge inperkings net ’n klein bietjie draagliker gemaak het. Dis asof hulle nou maar eenmaal net verstaan waardeur ons as mens-spesie soms moet gaan en daar is daai oomblikke waneer ’n kat- of hondedrukkie net alles oraait maak. Dit is en bly ook vir my ’n verstommende faktor om te kan beleef hoe slim hierdie dierekinders van ons kan wees. My huidige stapmaat-hondjie CJ is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Hy sal klokslag elke dag net na vyf sy draai kom maak vir my en sy gunsteling-doending elke dag – stap. Aan die begin was dit maar ’n geneuk om bietjie te skaaf aan sy dieremaniertjies op ons staptogte. Deesdae verstaan ons twee mekaar baie goed en is daai stappies elke dag een groot lekkerte. So goed verstaan ons mekaar dat ek by tye kan sweer CJ verstaan beter Afrikaans as party mense met wie ek al te doen gehad het! En by tye gewaar ek ook daai sosialemedia-inskrywings waar vriende en kennisse hul dierekinders finaal moes groet. En dis dan dat ’n mens meer as ooit besef hoe spesiaal daardie band tussen die twee spesies kan en moet wees. Hoe die sorg, omgee, liefde en onvoorwaardelike daarwees van ’n dierekind die grootste verskil in ’n mensehart kan maak. Kom ons kyk mooi na ons dierekinders, want onthou – hulle is ook maar net vir ’n tydjie aan ons geleen.





