Nog 10 huise is Woensdag 3 Augustus aan begunstigdes van die De Hoop-behuisingsprojek in Malmesbury oorhandig.
Die Swartland-munisipaliteit is tans in die eerste fase van die behuisingsprojek, waarin 395 huise gebou en aan begunstigdes oorhandig word. Die nuwe huiseienaars is hoofsaaklik bejaardes wat hul nuwe huise met trane van blydskap ontvang het.
Harold Cleophas, uitvoerende burgemeester van die Swartland, en Tertuis Simmers, minister van plaaslike regering, het saam die 10 huise oorhandig.
Volgens Cleophas het bouwerk aan die eerste 200 huise verlede Oktober begin. “Die bouwerk aan die eerste fase sal na verwagting in Januarie 2023 voltooi wees en dit is ’n prioriteit vir die munisipaliteit om begunstigdes te laat intrek sodra die huise voltooi is, om onwettige besetting en vandalisme te vermy,” sê hy.
Dit bring die aantal huise wat sedert April 2022 aan begunstigdes oorhandig is op 134 te staan.
Grietjie Skippers, een van die inwoners wat haar nuwe huis ontvang het, sê sy is baie tevrede en gelukkig. “Ek is 60 jaar oud en het in 2001 aansoek gedoen vir my lieflike huis,” het Skippers gesê.
Volgens haar het die huis twee slaapkamers en sy sal saam met haar dogter Leh-Andre Swarts daar woon. “Ek is baie dankbaar vir hierdie geleentheid, want dis net ons Hemelse Vader wat my so ver gebring het wat my gesondheid betref, en Hy is baie goed vir my. Al die eer gaan na Hom toe – en my familie,” het Skippers, wat in ’n rolstoel is, gesê.
Cleophas sê behuising bly ’n uitdaging aangesien munisipaliteite slegs die implementeringsagente is.
“Dit is nie ’n munisipale bevoegdheid nie, en alle projekte is afhanklik van die goedkeuring en finansiering van die nasionale en provinsiale regering,” verduidelik hy. ’n Immer groeiende behuisingslys en beperkte geskikte persele vir behuisingsprojekte is deel van die uitdaging sê Cleophas.
“Ons verbintenis is egter om voort te gaan om met alle belanghebbendes saam te werk om so veel volhoubare geleenthede moontlik te skep.”
Simmers en Cleophas het die lint saam met die inwoners as deel van die onthullingseremonie geknip. “Ek is baie dankbaar om vandag hier te kan staan en julle te kan verwelkom deur die sleutels aan julle te oorhandig,” het Simmers gesê.
“Jul geduld en samewerking is die rede dat julle vandag met ’n glimlag in jul nuwe huise kan instap.”
Simmers het gesê hierdie behuisingsprojek word as ’n woonbuurt vir pensioentrekkers beskou. “Woon lekker en maak hierdie huise ’n woning van liefde,” het Simmers gesê.




