Dis Vrouemaand – ’n maand waarin die skoner en sagter geslag gevier en beskerm moet word. Tog is daar so baie mans wat hul vroue soos vuilgoed hanteer.

Dis regtig hartseer dat heelwat vroue reeds in hierdie maand in ons gebied deur hul “maats” of voormalige maats vermoor is.

Lees op bladsy twee oor ’n swanger vrou van Klawer, wat Saterdag vermoor is. Haar vriend, die pa van haar kinders, is weens die moord aangekla. Verlede week se voorbladberig was ook oor ’n vrou wat na bewering deur haar gewese liefde vermoor en toe in ’n vlak graf by sy huis begrawe is. Dis ’n welbekende feit dat ’n vrou wat deur haar man vermoor word, in die meeste gevalle al voorheen deur hom aangerand is of ten minste sy gewelddadige kant gesien het.

Is jy een van hulle?

Kom uit daardie slegte verhouding voordat jy met jou lewe daarvoor betaal. Daar is altyd ’n uitweg as jy dapper genoeg is om vir hulp te vra. Moenie bly omdat hy na jou omsien nie. Geld en ’n dak oor jou kop is vervangbaar, maar jy wat dalk nog klein kindertjies het om te versorg, kan nie vervang word nie.

Reik uit na ’n kerk of gaan na jou naaste polisiekantoor vir hulp. Die polisie het trauma-fasiliteite en maatskaplike werkers wat saam met jou die pad sal stap om uit jou verhouding te vlug en oor te begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article