Inwoners het sedert Donderdag probeer om die kat uit die boom te kry.


Danksy die hulp van brandweerlede, ’n raadslid en inwoners het ’n Weskus-kat nog agt van die nege lewens oor.

Inwoners van Dwarskersbos het onlangs alles probeer om ’n kat uit ’n boom te kry nadat hulle Donderdag (4 Augustus) die wit en swart kat die eerste keer in die boom naby Oostestraat gewaar het.

Ten spyte van wind en gure weer kon niks die viervoetige diertjie bly sit en niks kon hom uit die boom kry nie – nie kos, ’n hokkie of ’n vriendelike inwoner se geroep kon die kat sover kry om uit sy nuwe tuiste 10 meter hoog te kom nie.

Weskussers, wat die affêre op sosiale media gesien het, het vinnig ingespring met skenkings om ’n hidrouliese hyskraan uit Vredenburg te kry om die kietsie terug op die grond te kry. Teen Dinsdagoggend (9 Augustus) is besluit die beste manier om die kat uit die bloekomboom te kry, sou wees om die boom, oftewel die tak waarop die kietsie gesit het, af te saag en grond toe te bring.

Met saag in hand en vele hande om die dier te vang, is die tak afgesaag en die kat na die aarde teruggebring.

Die reddingsoperasie is onder meer met die hulp van raadslid Johan Moolman, die brandweer, Blue Crane, Laaiplek Lipo/Tool and Trailer Hire, en Ettiene Swanepoel van Dwarskersbos Snake Rescue, suksesvol uitgevoer.

Dit blyk egter ’n lewe buite in die natuur is waarna dié kietsie smag aangesien die kat gou weer die pad gevat het nadat hy uit die boom gered is. Volgens plaaslike inwoners het die kat weggehardloop en is hy/sy nog nie weer gesien nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article