Sy inspirasie kom van alles wat hy deurgemaak het.
Só vertel die rymkletser Lorenzo Huyster (23), of meer bekend onder sy verhoognaam, Razer.
Dié inwoner van Hopefield se liefde vir musiek het in 2014 begin toe hy nog in Mosselbaai gewoon het.
Razer sê sy lirieke fokus op sy lewe met die gedagte dat almal wat daarna luister, ook ’n konneksie kan maak met wat in hul eie lewe aangaan.
“Aan die begin was musiek maar net ’n stokperdjie, maar hoe meer ek dit gedoen het, hoe meer het my liefde vir musiek gegroei. Dit het ’n groot deel van my lewe geword,” vertel Razer.
Sy passie vir musiek en deursettingsvermoë het hom die geleentheid gegee om die verhoog met musiekkunstenaars soos HemelBesem, Yoma en Loufi te deel.
Razer het ook die geleentheid gehad waar die media onderhoude met hom gevoer het, en hy was ook op die radio.
Volgens Razer het sy lied “Beter Dae” saam met Gretchen en KD, wat in 2020 vrygestel is, ’n groot invloed op mense gehad. Die liedjie is in 2021 op YouTube gedeel, en meer as 12 000 mense het daarna geluister.
Razer sê “Beter dae” is ’n liedjie waarmee mense hulle kon vereenselwig. “Dis dinge wat met almal gebeur. Slegte dae is tydelik, dus sal almal van ons definitief beter dae geniet.”
Razer sê sy doel vir die toekoms op sy pad vorentoe is om ’n positiewe rol in ander se lewe te vervul. “Wanneer mense moedeloos voel, wil ek hê hulle moet teruggaan na my musiek sodat hulle kan beter voel.”





