Meer as vier jaar ná die wrede moord op ’n tienermeisie van Laingville kan haar familie die lig aan die einde van die tonnel begin sien.
Berodine Boyce (16) is in Julie 2018 vermoor.
Boyce se modderbedekte, naakte lyk is op 12 Julie, ses dae ná haar verdwyning, in ’n vlak graf by die Laingville-krieketveld in St. Helenabaai aangetref.
Haar T-hemp was oor haar kop getrek en die res van haar klere is onder haar in die graf gegooi.
Sy is verkrag en aangerand.
’n Deeglike en intensiewe ondersoek van byna ’n jaar lank het in Junie 2019 tot die inhegtenisneming van drie plaaslike mans gelei.
Weslander het voorheen berig dat een van die verdagtes sy neef vermoor het, en in Februarie 2020 ’n swaar vonnis van 22 jaar effektiewe tronkstraf in die Vredenburg-streekhof opgelê is.
Dié veroordeelde moordenaar het glo sy neef in 2018 doodgesteek omdat hy gedreig het om oor sy betrokkenheid by Boyce se dood uit te praat.
Die moordsaak sal weer aan die einde van die maand, op Maandag 29 Augustus, in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word.
Volgens die proporsionele raadslid Thyrone Williams, wat Boyce se gesin al sedert haar moord bystaan, het die hof tyd vir die moordsaak in September opsygesit en beplan om die saak vir finale uitspraak teen Donderdag 15 September af te handel.
Williams sê Boyce se bendeverkragting en moord was vir die gemeenskap van Laingville ’n skokkende nuwe vlak van geweld wat voorheen ongekend in hierdie woonbuurt was.
Volgens hom het inwoners ná die moord op Boyce vir hul kinders se veiligheid gevrees.
Sedert die Laingville-buurtwag verlede jaar op die been gebring is en steeds doeltreffend werk, het inwoners en veral ouers deesdae baie groter gemoedsrus.





