’n Man is in Moorreesburg met 40,95 kg dagga betrap.


Plaaslike patrollies het die afgelope ruk tot talle suksesvolle polisieoptredes in die streek gelei.

’n Man (18) is die afgelope Vrydag met 40,95 kg dagga betrap. Die polisie het die verdagte omstreeks 20:15 tydens ’n roetinepatrollie in Moorreesburg in sy voertuig voorgekeer, dit deursoek en op die dwelms afgekom.

Die plaaslike honde-eenheid het ook verlede week groot sukses behaal ná ’n gesamentlike optrede tussen 24 en 28 Augustus.

Die Swartland-eenheid met nege beamptes en nege honde was besig met misdaadvoorkoming saam met ander wetstoepassers waartydens opsporing en deursoeking van veral onwettige dwelms, ploftoestelle, vuurwapens, ammunisie en smokkelware gedoen is terwyl bystand aan die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF) verleen is om die onwettige handel in perlemoen, kreef en ander marieneprodukte hok te slaan.

’n Deel van die Swartland-eenheid se sukses was vyf inhegtenisnemings. Dié eenheid het op verskeie dwelms, insluitend 77 pakkies dagga, waarvan een sak 9,51 kg geweeg het, en 10 metamfetamien- (tik) strooitjies beslag gelê. Lede van die eenheid het ook op R5 500 beslag gelê.

Vyf persele is tydens die optrede deursoek en ’n misdaadvoorkoming-dwelmbewusmaking is by die Laerskool Ruststasie in Moorreesburg aangebied.

“Hierdie voortgesette bedrywighede deur die K9-eenhede verseker dat die roetes wat misdadigers gebruik om hul onwettige goedere te vervoer, onderbreek word,” het Reagen Allen, provinsiale minister van gemeenskaps­veiligheid en polisie-oorsig, gesê. “Die rol wat hulle vervul, is beduidend, aangesien hierdie onwettige goedere individue, gesinne en die gemeenskap vernietig. Ek spreek my dank uit teenoor ons K9-eenhede en die ander wetstoepassingsagentskappe vir hierdie suksesse.” Hy het ook die werk van wetstoepassers by skole uitgelig.

“Dit is nie net goed vir leerders om teen dwelmmisbruik en misdaad gewaarsku te word nie, maar ook om te sien watter loopbaangeleenthede binne wetstoepassing bestaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article