Met die akademiese skooljaar byna op ’n einde vir die 2022-matrieks, wou Revando van Wyk, Hoërskool Weston se hoofseun, hierdie boodskap deel:
Die grootmense sê altyd dat alle dinge tot ’n einde moet kom. Vandag besef ek dit met my uittrede as hoofseun van Hoërskool Weston.
Wat ’n voorreg was dit nie vanjaar om Hoërskool Weston op verskillende vlakke as hoofseun te verteenwoordig nie. Tussen die klaskamers, in die gange, op die sportterrein en op soveel meer verskillende plekke sal die herinneringe bly rondhardloop.
Die geloop van een klaskamer na ’n ander om die leerders van Weston te verteenwoordig as daar probleme is; die geroep in die gange van leerders wat iets wil weet of vra; veral op die sportveld sal my hart altyd bars van trots wanneer ek terugdink aan elke oomblik wat ons op daardie pawiljoene gestaan en oorverdowend vir ons sportspanne geskree het.
Hoërskool Weston, dankie vir dae van lag en dans, dankie vir dae van huil en dankie vir die dae wat ek kon leer hoe om aan te hou en uit te hou. Dankie aan die onderwysers wat dag vir dag so ’n groot rol in my lewe vervul het; die kantoorpersoneel wat onvoorwaardelik daar was om my te help, selfs al het die skoolklok ure terug gelui. Ek sal nooit genoeg kan dankie sê vir al die opofferings wat gemaak is om my te huisves nie, maar besef asseblief ek stap hier weg met ’n hart vol dankbaarheid en lesse wat ek die oor jare steeds sal onthou.
Ek is so opgewonde oor wat die toekoms vir elkeen van ons inhou en ek wens julle almal voorspoed toe. Dié van julle wat in die skoolbanke agterbly – neem deel aan elke aktiwiteit wat aangebied word, en doen dit met oorgawe vir die skool. Hoërskool Weston is werklik die beste skool in die land.
Ek het vanjaar soveel gegroei en het soveel mense om te bedank.
Die bande wat ek met almal op Weston kon bou, het my gedra wanneer die opdraande te steil geword het, en wanneer die pad gelyk was, het julle saam met my elke oomblik daarvan geniet. My hart raak seer as ek dink dat ons uitmekaar moet gaan en ek julle nie meer elke oggend met moeë oë sal kan groet en saam-saam moed skep vir die dag nie.
Mag hierdie skool net voorspoed beleef. Ons groet nie vandag nie, want hierdie rots en familiebande verval nie. Die tye tussen die klaskamers en gange sal my vir altyd bybly en my hart sal nooit ophou om te bars van trots as ek die skoollied sing nie. God seën julle en God seën Hoërskool Weston.




