Die aansoekproses van kleinskaalse vissers om visvangregte te bekom, sal van voor af moet begin.
Dít was Woensdag 31 Augustus die beslissing van die Wes-Kaapse hooggeregshof.
Kleinskaalse vissers wat dus hul vissersregte in 2016 ontvang het – geldig vir die 2016-2019-tydperk – sal heraansoek moet doen. Die proses is slegs vir vissers wat toe hul visvangregte ontvang het.
Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, het vroeër die hof genader om die proses te hersien ná vele klagtes van vissers oor die geldigheid van die proses. Klagtes het die akkuraatheid en regverdigheid van die toekenning van die regte bevraagteken.
Volgens die departement sal die verifikasie, registrasie en verklaring van die kleinskaalse vissers herlaai word waarna visvangregte dan toegeken sal word.
Destyds het 8 488 individue van vissersgemeenskappe belangstelling getoon om deel van die kleinskaalse vissersektor te wees, het die departement Maandag in ’n verklaring gesê. Van dié individue is 2 802 as kleinskaalse vissers verklaar. Klagtes oor die proses is sedertdien by die Wes-Kaapse departement ingedien en ’n interne ouditproses is gedoen. Die hersiening is in 2019 van stapel gestuur en daar is bevind die verifikasieproses was “heeltemal onvoldoende”. Onakkurate datavaslegging, ’n gebrek aan eenvormige kriteria vir verskillende vissersgemeenskappe en verlore aansoeke was net van die probleme met die toekenningsproses.
Volgens die departement sal sessies nou met plaaslike vissersgemeenskappe gehou word om te help met die proses. “ ’n Onafhanklike implementeringsdiensverskaffer en ’n waarnemersforum is aangestel om neutraliteit, deursigtigheid en regverdigheid in die hele proses te bevorder,” het die departement luidens die verklaring laat hoor.
Aansoekvorms sal nou uitgedeel word en daarna sal registrasie en verifikasie plaasvind, waarna provinsiale lyste bekendgestel sal word. Enige appèlle sal hanteer en die finale kleinskaalse vissers bekend gemaak word aan wie permitte toegeken word. Kleinskaalse koöperasies sal dan geregistreer en regte toegeken word. Vissers wat sedertdien – ná 2016 – visvangregte ontvang het, word nie deur die nuwe verifikasieproses geraak nie.



