Die brand het vermoedelik ontstaan weens ‘n kers wat omgeval het.


Die ouma het glo probeer om die baba uit die brandende huis te red, maar dit was reeds te laat.

’n Nege maande oue babaseuntjie van Velddrif het in ’n brand gesterf nadat ’n kers vermoedelik in die vertrek waar hy geslaap het, omgeslaan het. Kapt. Tania Helfrich, ’n polisie­woord­voerder vir die Weskus-distrik, sê die Laaiplek-polisie het Saterdag­aand 10 September om 19:30 die nuus ontvang van ’n brand wat in ’n sink­huisie in Neptunestraat, Noordhoek, ontstaan het.

Met die polisie se aankoms op die toneel is vasgestel dat ’n baba in die brand gesterf het. Die kind se ouma is met brandwonde na die hospitaal geneem.

“Die vermoede is dat die kers omgeslaan het, maar die presiese omstandighede wat tot hierdie tragiese brand gelei het, is nog nie bekend nie,” het Helfrich verduidelik.

“Wanneer die lykskouingsverslag ontvang word, sal uitsluitsel oor die oorsaak van die baba se dood bevestig kan word.”

Audrey Small, die Bergrivier-raadslid van die betrokke wyk, sê die baba en sy gesin is familie van haar.

“Dis ’n verskriklike groot skok vir ons almal. Die trane wil nie ophou nie,” het sy verduidelik.

Die ma van die baba het Dinsdag aan Weslander gesê sy is nog nie gereed om oor die voorval te praat nie.

Die ouma was teen druktyd steeds in die hospitaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article