Klein krieketspelers van verskeie skole het Woensdag (14 September) by die Vredenburg/Saldanha-krieketklub en skole-minikriekettoernooi kragte gemeet.
Vanjaar se toernooi was opgedra aan juffrou Yvonne Kotze van Saldanha. Kotze was jare lank by mini-krieket betrokke en het haar passie vir die sport oorgedra. Sy was ’n onderwyser en afrigter by St. Andrew’s in Saldanha en haar span het gereeld aan die nasionale KFC-minikriekettoernooi deelgeneem. Kotze is in Januarie 2021 weens komplikasie van Covid-19 oorlede. Sy is Donderdag by die geleentheid onthou en ballonne is ter viering van haar lewe vrygelaat.
Groot aksie was op die veld aan die gang waar die spanne mekaar in rondomtalie-wedstryde aangedurf het.
Leerders van onder meer Noordhoek Primêr, die Hoërskool Hopefield, Noordhoek Primêr, Jurie Hayes Primêr en Diazville Primêr het gekolf, geboul en hul veldwerkvernuf gewys.
Volgens Patricia Jacobs van die Laerskool Saldanha, koördineerder van die dag, was dit beslis ’n suksesvolle toernooi.
“Almal het goed saamgewerk en net drie skole kon dit nie maak nie. Dit was die eerste toernooi ná die Covid-inperking en ons was bly om die dag aan juffrou Yvonne op te dra,” sê sy.
Die organiseringspan van die toernooi verander jaarliks. Jacobs bedank die Krewe-krieketklub, wat die fasiliteite en die borge vir die dag gewerf het.
“Vir hulle is dit natuurlik om hul sport met die jongspan te deel. Wie weet – hier is dalk toekomstige spelers wat eendag by die klub sal aansluit.”





