Sebastiaan Stander is ’n onderwyser by die Hoërskool Velddrif.Foto: SI Fotografie


Leerders wat in die wêreld inbeweeg en positiewe bydraes kan maak daar waar hulle hul vestig, is een van vele hoogtepunte in Sebastiaan Stander se werk as ’n onderwyser.

Stander (35) is al amper 11 jaar in die onderwysberoep en geniet elke oomblik daarvan. Hy is tans ’n onderwyser by Hoërskool Velddrif en bied lewenswetenskappe vir graad 10 tot 12, natuurwetenskap vir graad 9 en asook tegnologie vir graad 9 leerders aan. Hy vertolk ook die rol van fasehoof, is die rugby-koördineerder by die skool en werk ook saam met die dissiplinêre komitee.

“Ek het ’n passie vir jongmense en om ’n positiewe invloed te kan wees in hulle lewens is my grootste motivering,” vertel hy.

Hierdie jong onderwyser het in 2008 met sy drie jaar BA-graad in menslike bewegingswetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat begin, waarna hy sy nagraadse onderwyssertifikaat in 2011 voltooi het.

Hy het verlede jaar sy BEd-honneursgraad in Onderwysbestuur aan die Noordwes-Universiteit voltooi.

Volgens Stander moet onderwysers die vermoë hê om ’n verhouding met hul leerders te bou, want as ’n leerder jou nie vertrou nie, sal hulle moeilik vir jou luister wanneer jy iets vir hulle probeer leer. “So goeie verhoudings met die leerders is belangrik. Die beste plek om goeie verhoudings te bou, is op die sportterrein of by ander buitemuurse aktiwiteite. Die kurrikulum is vreeslik vol en daar is nie daarvoor tyd in die klas nie.”

Soos genoem is Stander baie trots daarop wanneer leerders positiewe bydraes in die lewe terugploeg. “Wanneer ’n leerder terug kom skool toe om te kom groet en jy hoor van hulle lewe en jy weet jy het ’n rol gespeel in hul suksesverhaal, is dit ’n groot hoogtepunt.”

Stander voeg by dat onderwys ’n harde en ondankbare werk is, “maar in die beroep het jy die geleentheid om ’n ware verskil te kan maak in die lewens van jongmense”.

“Jy gaan nooit ryk word nie en jy gaan baie moeg word, maar jou opoffering is die moeite werd vir die leerders wat ’n beter lewe het omdat jy gehelp vorm het aan hulle.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article