Daar is groot kommer oor die toename in verkragtingsake wat in die Darling-gebied aangemeld word.
Die nuutste verkragtingsklag is gelê nadat die Darling-polisie Woensdagoggend 5 Oktober van ’n oproerigheid op die dorp ingelig is.
Volgens sers. Johnathan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie is konst. Yolandi Jantjies en konst. Mitchem Fortuin na die toneel gestuur waar hulle woedende lede van die gemeenskap gevind het wat besig was om ’n man (47) aan te rand.
Toe die polisie die mense vra waarom hulle die man aanrand, het hulle gesê die man het sy vriendin se negejarige dogter verkrag.
Filander sê die man is in hegtenis geneem en sy lewe is heel waarskynlik gered aangesien die mense reeds besig was om hom aan te rand en hulle hom moontlik ernstig sou beseer of doodmaak as die polisie nie betyds opgedaag het nie.
Die polisie het na die kind gaan soek wat erken het dat haar ma se kêrel haar seksueel aangerand het.
Volgens die kind se verklaring aan die polisie het die man haar die aand van 1 Oktober na ’n veld daar naby geneem, waar hy haar broek afgetrek en haar verkrag het.
Die kind, haar ma en die ma se kêrel woon saam in ’n huis.
Die kind is daarna na die hospitaal geneem om medies geëvalueer te word. Beide sy en haar vermeende verkragter is volgens die standaardprosedure in die geval van ’n seksuele ondersoek, vir forensiese bewyse ondersoek.
Filander sê die verdagte is in aanhouding en sal Vrydag 7 Oktober in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
“Hierdie voorval is die derde verkragtingsklag wat in drie weke in die Darling-omgewing aanhangig gemaak is,” sê Filander.
“Dis ’n groot bekommernis vir ons.”




