Duisende klagtes van pensioentrekkers wat weens hoër belastingaftrekkings moontlik nie vandeesmaand al hul rekeninge sal kan betaal nie, begin landwyd die kop uitsteek.

Pensioentrekkers het verlede maand met ’n skok besef hul maandelikse inkomste is minder as gewoonlik, terwyl ander reeds in Maart vanjaar ’n verlaagde pensioen in hul bankrekening ontvang het.

Onvoldoende kommunikasie blyk die grootste probleem te wees.

Volgens die agentskap vir die administrasie van regeringspensioene (GPAA) is van so vroeg as Februarie vanjaar kennisgewings aan afgetrede staatsamptenare, wat deur die aangepaste belastingaftrekkings geraak sal word, gestuur.

Dít volg nadat die GPAA ingevolge die Wet op Inkomstebelasting ’n nuwe direktief van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) moes instel. Dié ooreenkoms tussen die administrateur van pensioenfondse vir staatsamptenare (GEFP) en die SAID het ’n aangepaste belastingtarief vir regeringspensioentrekkers met ’n ekstra inkomste tot gevolg. Die nuwe voorskrifte poog om te verseker dat die korrekte belasting vooraf van afgetredes met meer as een pensioen- of ander inkomste ingevorder word.

Die GPAA het volgens ’n verklaring, wat verlede Dinsdag deur die GEFP uitgereik is, die versekering gegee dat kennisgewings vooraf uitgestuur is na pensioentrekkers wat hierdeur geraak word, voorafgegaan deur die SAID se eie kennisgewings in die media.

Pensioentrekkers is deur dié skrywe van hul keuse in kennis gestel.

Afgetredenes met bykomende inkomstebronne wat op die SAID se belastingstelsel wys, het die keuse gehad tussen ’n hoër belastingkoers, wat maandeliks van hul pensioen afgetrek word, of om voort te gaan met die normale inkomstebelastingkoers.

Karen Bester van Bester en vennote-rekenmeesters in Malmesbury, verduidelik dié wat die laasgenoemde keuse uitoefen, loop die gevaar dat pensioentrekkers die uitstaande belasting moet inbetaal wanneer hulle hul belastingopgawes by die SAID indien. Belasting wat dus in die belastingjaar van Maart 2022 tot Februarie 2023 te min betaal word, word dus eers betaalbaar wanneer die belasingseisoen in Julie 2023 open.

Bester verduidelik egter elke individu se omstandighede is uniek. Waar dit vir een belastingbetaler moontlik beter is om die bykomende inkomstebelasting maandeliks van hul pensioen te laat aftrek, kan dit volgens haar vir iemand anders beter wees om op die ou tabelle voort te gaan.

Die agentskap sê hy is bewus daarvan dat baie afgetredenes nie die kennisgewing ontvang het nie of dalk nie die keuse verstaan het nie, namate klagtes van oral begin instroom het.

Afgetredenes wat onseker is oor watter keuse hulle moet uitoefen, word deur die agentskap aangeraai om hul finansiële beplanners of raadgewers vir aanwysings te nader.

Die betrokke keusevorms is by die kantoor van die GEFP beskikbaar. Die vorm kan ook aangevra word by paye@gpaa.gov.za.

Die GEFP kan vir nog inligting by 0800 117 669 gekontak word.

Baie pensioentrekkers hou egter voet by stuk dat hulle geen ander inkomste het nie, terwyl ander hul bekommernisse op die GEFP se Facebook-blad laat hoor het.

Sommige se pensioen is met bedrae van R5 000 tot R10 000 gesny.

Intussen het die organisasie PSA, wat baie pensioentrekkers in die staatsdiens verteenwoordig, sy ongelukkigheid teenoor die GEFP uitgespreek.

Hoewel PSA bewus is van die Wet op Inkomstebelasting en die nuwe direktief van die SAID, wat tot die hersiende belastingkoers gelei het, is hy ongelukkig oor hoe die situasie hanteer is. “Ongeag pensioentrekkers gevra is om ’n keuse te maak oor watter metode vir hulle gaan werk, is die verhoogde belastingtarief in elk geval toegepas, wat mense met min tot geen inkomste nie laat.”

PSA het ’n beroep op die SAID en die GEFP gedoen om die probleem reg te stel en diegene wat onregverdig hierdeur geraak is, terug te betaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article