Die landbousektor is vuisvoos. Reusagtige bedryfskostes, waaronder die baie hoë brandstofprys wat elke aspek van hul produksie raak en hoë minimumlone knou hul lewensvatbaarheid erg.

Elke stukkie metaal word van plase gestroop en as skroot verkoop, en dan vrees boere alewig geweldsmisdaad asook onwettige grondbesetting, om nie eens beurtkrag te noem nie.

Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde waarom die landboubedryf deesdae na ’n minder gesogte beroep lyk en talle jong boere verkies om groener weivelde elders te soek.

En tussen al die geweldige uitdagings waarmee die landbousektor daagliks die stryd moet voer, rep die regering nie een enkele woord oor die skandalige optrede van enige misdaad teenoor die bedryf nie.

Dit gaan ’n mens se verstand te bowe hoe die leiers van die land hierdie krisis kan ignoreer, wat ’n reuse-uitwerking op elke landsburger se menswees het. Hieroor sien ons reeds hoe die voedselpryse die hoogte in skiet.

En wat gaan gebeur wanneer die landbousektor eendag besluit genoeg is genoeg en boere draai hul krane toe en ons kosrakke raak leeg?

Sal die regering dalk dan eers wakker skrik?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article