Ure voor die skerm, ouderdom en slegte gewoontes kan alles tot swakker sig ly.
Almal kan egter daagliks voorsorgmaatreëls tref om hul oë gesond te hou en kan in hierdie Oogsorg-maand daaroor leer. Bewusmaking oor oogsorg is ’n fokus wat van 20 September nog tot 17 Oktober duur, maar volgens Geo Nel van Occuvision Vredenburg/Velddrif moet almal elke dag na die gesondheid van hul oë omsien.
Nel, ’n resepterende optikus, sê ooglopende tekens dui op wanneer ’n oogtoets nodig is. “Versteurde visie, probleme om te fokus en te konsentreer en oë wat maklik moeg raak, is alles tekens. Dit is belangrik om bewus te wees van die tekens – veral by kinders en jong volwassenes, wat duidelik kan sien, maar hulle moet dalk te hard fokus en vind dit moeilik om te konsentreer,” verduidelik Nel.
Kroniese medikasie, skermtyd en ouerdom speel alles ’n rol in ooggesondheid. “Elke twee jaar is ’n aanvaarbare tyd om vir ’n oogtoets te gaan, maar in baie gevalle is ses maande tot ’n jaar goed – veral vir mense wat kroniese medikasie gebruik. Dit is die beste om die raad van jou oogsorgverskaffer te volg.”
Volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid is katarakte, gloukoom en diabetiese retinopatie van die algemene oogverwante toestande wat hulle hanteer. Katarakte word veroorsaak deur die saamklont van proteïene in die ooglens, wat tot vae visie lei. Gloukoom verwys na verskeie oogprobleme wat veroorsaak is deur skade aan die optiese senuwee. Indien dit nie vroeg genoeg behandel word nie, kan gloukoom tot blindheid ly.
Diabetiese retinopatie kan voorkom word en kom voor by mense met diabetes weens skade aan bloedvate in die weefsel agter die oog. Die simptome van diabetiese retinopatie kan “floaters”, vaagheid, donker dele van visie en probleme om kleure waar te neem, insluit.
Om jou oë gesond te hou, beteken egter nie drastiese verandering aan ’n gesonde leefstyl nie. “Kry genoeg slaap, volg ’n voedingryke dieet en doen oefening vir sirkulasie. Maak seker jy kry ’n bietjie sonlig en rus gereeld tussen lang sessies werk,” raai Nel aan.. Weskussers wat die Phelophepa-gesondheidstrein in Saldanha besoek, kan ’n gratis oogtoets ondergaan. ’n Bril kos R15 en oogdruppels R5. Die trein sal tot Vrydag (14 Oktober) by die Saldanha-stasie wees.




