Belanghebbendes van onder meer Sasol, ArcelorMittal Suid-Afrika en Freeport Saldanhda saam met die Saldanhabaai-munisipaliteit se burgemeester, André Truter, by die Afrika-energieweek. Saam het hierdie drie maatskappye ’n plan om Saldanhabaai in ’n internasionale groenwaterstof-spilpunt om te kep. Foto: Verskaf


Saldanhabaai is wêreldbekend vir sy hawe, staalvervaardiging en toerisme, en danksy ’n nuwe vennootskap kan dit ook as ’n groen-nywerheidsontwikkelingsone bekend word.

Danksy planne van ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa), Sasol en Freeport Saldanha (voorheen bekend as SBIDZ) kan die Weskus eersdaags die groenwaterstof-spilpunt van die vasteland word.

Verteenwoordigers van Freeport Saldanha, Sasol, Amsa, die Wes-Kaapse regering en die Saldanhabaaise burgemeester, André Truter, het Dinsdag (18 Oktober) diá aankondiging saam by die Afrika-energieweek in Kaapstad gedoen.

“As uitvoerende burgemeester is ek bly om hierdie opwindende aankondiging te doen. Ek glo Saldanha het hom as die ekonomiese middelpunt en sleutelpunt na die res van die wêreld in nywerheidsvervaardiging geposisioneer,” het Truter gesê.

Amsa en Sasol sal nou navorsing doen om te kyk na groenwaterstof vir die vervaardiging van “groenstaal” in Saldanha. Die plaaslike aanleg is in Maart 2020 “onder instandhouding geplaas” met talle plaaslike werkers wat hul poste verloor het. Die studie sal ook bepaal of die uitvoer van groenwaterstof en die neweprodukte van dié proses, lewensvatbaar is.

Amsa en Sasol sal ook saam navorsing oor koolstof-opvangs en -berging by Amsa se Vanderbijlpark-aanleg doen.

Sasol en Freeport Saldanha het ’n memorandum van verstandhouding onderteken om ’n internasionale groenwaterstof-sentrum plaaslik te stig.

Alan Winde, die Wes-Kaapse Premier, het die provinsiale regering se steun agter die ontwikkeling gesit. “Dit is ’n opwindende, gewaagde nuwe onderneming wat die Wes-Kaapse regering glo ’n belangrike komponent in ons strewe na groenenergie sal vorm,” het die premier gesê.

Truter het op sy beurt gesê die Saldanhabaai-munisipaliteit bied deurslaggewende ondersteuning vir ontwikkeling van Freeport Saldanha sowel as infrastruktuurbelegging. “Saldanhabaai verwelkom hierdie beleggings, wat ’n fundamentele verskil in die ekonomiese lewensvatbaarheid van die streek en sy inwoners kan maak,” het Truter verduidelik.

Amsa sowel as Sasol het verduidelik die projekte het die potensiaal om Saldanha ekonomies te laat herleef. Volgens Amsa sal die projekte na verwagting talle werksgeleenthede skep met die doel om infrastruktuurbelegging en vaardigheidsontwikkeling vir die land te bewerkstellig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article