Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) is 1,5 miljoen inheemse plante – veral bedreigde dwergvetplante – die afgelope drie jaar in Suid-Afrika vir onwettige handel uit die natuur verwyder.
Volgens Sanbi neem die aantal plante waarop die polisie beslag lê, jaarliks met meer as 250% toe.
Net omtrent ’n kwart van die onwettige plante wat deur sindikate gestroop word, word deur die polisie onderskep.
Die Noord-Kaap en veral die Knersvlakte het ’n natuurlike rykdom van meer as ses miljoen inheemse plantspesies.
Stropers wat plante onwettig uit hierdie gebied verwyder en na Kaapstad probeer smokkel, word gereeld deur die owerhede op die Weskus se paaie vasgetrek.
In een van die jongste voorvalle het die Weskus se landelike blitspatrollie op 25 Oktober drie sakke met 3 491 onwettige plante in ’n Ford Fiesta ontdek, wat van Clanwilliam na Citrusdal onderweg was.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die blitspatrollie op inligting oor smokkel-aktiwiteite gereageer en die Fiesta is op die N7 naby die Sonop-vulstasie in Citrusdal voorgekeer.
Die motor is deurgesoek, waarna die polisie op die onwettige plante afgekom het.
Die geraamde waarde van die flora moet nog deur Cape Nature bepaal word.
Die vier insittendes in die voertuig is in hegtenis geneem en sal eersdaags, sodra hulle aangekla is, in die Citrusdal-landdroshof op aanklag van die besit van flora, sonder die nodige dokumentasie, verskyn.





