Vroue wat verkrag is, ervaar dikwels ’n skuldgevoel wat hulle verhinder om die saak so gou as moontlik by die polisie aan te meld.

Gail Roman, ’n plaaslike vrywilliger wat ’n pad van genesing saam met slagoffers van trauma stap, sê vroue wat seksueel aangerand is, moet nie hulself afsonder nie aangesien die herstelproses vol moeilike uitdagings is waarvoor hulle liefde en ondersteuning gaan nodig hê.

Een van hierdie uitdagings is die trauma van die ondersoek en die moontlikheid van ’n uitgerekte hofsaak.

Maklike teikens

Kaptein Johan Horn, ’n woordvoerder vir die Weskus se seksuele misdaadeenheid in Saldanha, sê ’n verkragting is altyd ’n tragiese en hartseer gebeurtenis, maar baie seksuele misdrywe kan verhoed word deur meer versigtig op te tree en altyd paraat te wees. Volgens hom is 80% van hierdie sake wat deur die eenheid ondersoek word, alkoholverwant. Vroue wat alleen by ’n kroeg of nagklub tussen mense kuier wat sy nie goed ken nie, word gereeld deur seksuele oortreders geteiken.

Dit is kapt. Horn se raad aan vroue om “hul perke te ken” wanneer dit by alkohol kom, aangesien alkoholinname ’n vrou se goeie oordeel inperk en haar minder bewus van haar omgewing maak.

Hy het dit duidelik gemaak dat hy geensins met hierdie raad die skuld op slagoffers wil pak nie, maar wel bewusmaking wil skep sodat hulle die trauma van verkragting of van besluite wat hulle berou, gespaar kan word.

Hy beveel aan dat vroue saam met mense uitgaan wat hulle vertrou. Wanneer sy dalk te veel gedrink het, sal haar vertroueling toesien dat sy veilig is en sorg dat sy sonder enige voorval by die huis kom.

Trauma ná kroegkuier

’n Vrou van Saldanha het glo in September die seksuele teiken van twee mans geword terwyl sy in die nag van ’n kroeg af huis toe gestap het. Sy en ’n vriend wat haar ondersteun het, het Weslander genader om haar storie te vertel.

Die vrou het saam met ’n vriendin by die kroeg gekuier, maar die vriendin het besluit om vroeër huis toe te gaan. Die vrou het toe alleen saam met die ander mense in die kroeg gekuier. Twee mans met wie sy vlugtig by die kuierplek gesels het, het haar agtervolg terwyl sy huis toe gestap het. Hulle het glo gesê hulle stap saam met haar vir beskerming. Nadat hulle haar oortuig het om nog ’n drankie saam met hulle by ’n huis daar naby te drink, is die deur glo gesluit en het albei mans, na bewering teen haar wil, met haar seks gehad. Volgens haar vertelling het sy sonder haar onderklere uit die huis gevlug toe sy die eerste kans kry.

Die vrou sê sy is erg getraumatiseer en depressief oor wat gebeur het. Sy het die saak by die Saldanha-polisie aangemeld, maar sy is nie tevrede dat daar nog nie juis vordering gemaak is nie. Sy sê haar aanvallers koggel haar wanneer hulle haar in die openbaar raakloop. Sy het ook vertel dat sy oor die voorval teenoor ’n kennis oopgemaak het en hierdie vrou het haar glo meegedeel dat een van die twee mans onder bespreking haar ook ’n paar jaar gelede vasgebind en verkrag het. Die kennis het tot dusver te skaam en verneder gevoel om daaroor te praat.

Forensiese bewyse

Kapt. Horn het die saak se navraagnommer aan Weslander bevestig en gesê die polisie is nog besig met die ondersoek.

Horn sê sake soos dié is baie moeilik om te ondersoek en kan dikwels jare lank voortsleep, wat tot groot frustrasie vir die slagoffer en die ondersoekbeampte kan lei.

Die howe steun baie swaar op forensiese DNS-bewyse om ’n aanvaller positief met ’n verkragting te verbind. Die probleem is dat die polisie soms langer as ’n jaar op forensiese uitslae van monsters wag.

Hoewel die monsters in veilige bewaring by ’n forensiese laboratorium gehou word, heers ’n groot agterstand met die werk en kan dit baie lank neem voordat die monster uiteindelik evalueer word. Volgens Horn is belangrike dele van die DNS-inligting dan reeds deur natuurlike prosesse oor tyd vernietig. En in die afwesigheid van DNS, soos wanneer ’n vrou te lank gewag het om die verkragting aan te meld of gebad het voordat sy hospitaal toe is, is dit baie uitdagend om wel ’n skuldige aan die pen te laat ry.

Horn sê dis ’n hartseer feit dat sake soms nie verder vorder nie, omdat ’n staatsaanklaer dikwels sal bevind dat die bewyse te “dun” is om dit suksesvol deur te voer. Dit moet egter so gedoen word omdat die staatsaanklaer weet dat sommige sake heelwaarskynlik vir ’n onredelike lang tyd sal sloer en dit bykomende trauma vir die slagoffers veroorsaak terwyl kosbare tyd en hulpbronne vermors word.

As die slagoffer onder die invloed van drank was terwyl die beweerde misdaad gepleeg is, veroorsaak dit verdere uitdagings omdat sy dalk nie sal kan onthou wat presies gebeur het nie.

“Onthou, wanneer dit by verkragting kom, is jou liggaam die misdaadtoneel. Moenie stort nie en gaan dadelik polisie toe. Dit geld vir mans ook, want nie net vroue word verkrag nie,” het Horn verduidelik.

Daar is hoop

Roman beveel aan dat wroegende slagoffers van seksuele geweld by die slagofferondersteuningskamer by hul plaaslike polisiekantoor sal aanklop.

“Ons sal ’n pad saam met jou stap. Genesing is nie ’n vinnige oplossing nie, en daarom moet jy deurlopend ondersteun word. Moenie te hard wees op jouself om dadelik oor jou trauma te kom nie – besef net die ondersteuningskamers is ’n veilige ruimte waar jy jouself kan wees, met liefde hanteer sal word en waar jy nie geoordeel sal word nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article