’n Nuwe afval-sel is by die Vredenburg-stortingsterrein geopen, wat beteken meer nie-herwinbare afval sal by dié terrein hanteer kan word.
’n Stortingsterrein is ’n perseel wat ontwerp is om afval te ontvang en terselfdertyd ’n minimale impak op die omgewing te hê.
Die plaaslike stortingsterrein bestaan uit verskeie komponente, soos ’n weegbrug, voerings om die afval van grondwater te skei, ’n stormwater-dreineringstelsel, gasmonitorstelsel, boorgat-moniteringstelsel en die stortingsterrein-sel, wat die vullis ontvang.
Die nuwe terrein is ’n klas-B-terrein met hoogs doeltreffende voerings en ’n vroeë waarskuwingstelsel om impakte op die omgewing te beperk.
Volgens André Truter, die burgemeester, is die stortingsterrein ’n belangrike mylpaal in die munisipaliteit se stryd teen klimaatsverandering. “Ons by die Saldanhabaai-munisipaliteit is sterk beskermers van die omgewing. Aan die span – ek is besonder trots op julle wat hierdie projek ’n groot sukses gemaak het,” het Truter gesê.





