Inwoners van die St. Helenabaai-hawe is opnuut bekommerd oor hul veiligheid by die hawe.
Dit is grootliks in die lig van die moord op die bekende sakeman en mede-eienaar van BP Marine, Pedro Bernard, op 14 Oktober.
Volgens Aletta Kleynhans, wat al die afgelope drie jaar in die hawe woon, het sy skote gehoor afgaan op die aand van die voorval, wat haar tot nou nog skrikkerig maak oor veiligheid in die hawe.
“Tans sit twee mense in die aande in die hokkie by die toegang van die hawe, maar verder het enigiemand steeds vrye toegang,” vertel sy.
Kleynhans het aan Weslander genoem dat voorvalle enige tyd van die dag of nag kan gebeur, en dus is veiligheidswagte dringend nodig.
In ’n poging om die hawe skoon te hou en om wegkruipplekke te belemmer, werk Kleynhans daagliks daaraan om die hawe skoon te hou en veral oorgroeide bosse en takke te verwyder.
“Die sekuriteits-beam in die hawe is buite werking; as dit werk, sal dit veiligheid baie verbeter. Mense jaag ook met voertuie in die hawe en ek glo spoedwalle sal dit stop.”
Kleynhans het ook klem daarop gelê dat veiligheid by ander hawens streng toegepas word, maar nie juis by die St. Helenabaai-hawe nie.
“So nou en dan patrolleer die polisie en ADT hier, maar verder is alles steeds dieselfde.”
Albi Modise, ’n woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, sê die departement werk daaraan om private veiligheidsmaatskappye deur middel van ’n tender aan te stel.




