Atlete van die Salkoriane-atletiekklub het Saterdag hul jaar amptelik met hul prysuitdeling afgesluit.
Die atlete is almal beloon vir hul toegewydheid deur die jaar, maar dit was die meestersatlete wat veral uitgeblink het.
Sakkie Mentoor, voorsitter van die Louwville-klub, het die belangrikheid van voorbereiding uitgelig. Mentoor meen afrigters sowel as atlete kan slegs presteer indien hulle emosioneel, geestelik en fisiek sterk genoeg is om die wedloop te hardloop.
“Baie keer is die ding wat ’n wen-atleet en diegene agter hom skei, sy geestelike voorbereiding. Indien jou kop reg is, is dit die grondslag om te wen – selfs al verloor jy, want daar sal altyd strawwe kompetisie wees en jou ingesteldheid is belangrik,” sê Mentoor.
Hy het die klubbestuur, atlete sowel as hul ouers bedank vir hul ondersteuning die afgelope jaar.
’n Hoogtepunt vir die klub vanjaar was die meestersatlete wat die eerste keer aan die SA Meester-kompetisie in Pretoria deelgeneem het. Hier het die span talle medaljes ingeoes. Die vakansie is dalk op hande, maar die meesters sê nou is nie die tyd om slap te lê nie, want die volgende meesterskompetisie is vroeg volgende jaar. Hulle beplan om tydens die vakansie by te hou met hul oefeninge om viets en fiks vir dié sportbyeenkoms te wees.
Die jonger Salkoriane het egter nie teruggestaan vir die ouer atlete nie en het onder meer pryse gekry vir verdienstelikheid, volhoubare oefening (alle oefensessies bygewoon), en die atlete wat vir hul eerste jaar deel van die klub was, is met sertifikate beloon.
Sertifikate en medaljes is ook oorhandig aan diegene wat die hele seisoen uiters pliggetrou en lojaal aan die klub was.
Die Salkoriane het vanjaar ook ’n ontwikkelingsklub in Atlantis begin wat spesifiek vir 7- tot 13-jariges ingestel is. Volgens Mentoor is dié kinders te jonk om amptelik by die klub aan te sluit, maar daar is hope talent wat ontwikkel moet word. Werk aan baanitems en korter wedlope was die fokus vir dié atlete.
Die klub bedank al sy medewerkers en borge vir die jaar en sê almal sien uit na die 2023-seisoen.





