’n Skermgreep van ’n video wat Maandagoggend in Diazville tydens die taxi-staking gemaak is.Foto: Videogreep


Berigte oor openbare geweld en die vandalisering van busse en private eiendom weens die taxi-staking wat vandag begin het, stroom van oral in die Wes-Kaap in.

Die Weskus is geen uitsondering nie.

Plaaslik word paaie versper, bande word gebrand en talle voertuie se vensters is met klippe stukkend gegooi.

Vanoggend (21 November) is inwoners van Vredenburg, Saldanha en St. Helenabaai deur betogers verhinder om hul woonbuurte te verlaat om werk toe te gaan.

AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het bevestig die situasie in Diazville is tans onder beheer en die polisie en munisipale wetstoepassing is op die toneel.

Sommige Saldanha-winkels is om veiligheidsredes gesluit.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het aan Weslander gesê die Vredenburg-polisie het reeds vroegoggend hul eerste saakdossier weens openbare geweld geopen nadat motorbande gebrand is. Die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) is ook vanoggend in St. Helenabaai om in te gryp indien nodig.

Helfrich vra motoriste om vandag asseblief uiters versigtig te wees en die roetes waar die betogings plaasvind, te vermy.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) is die nasionale staking vir Maandag en Dinsdag 21 en 22 November beplan.

Taxi-operateurs staak oor die daaglikse skut van taxi’s, swaar verkeersboetes en die Blue Dot-aansporingsprogram wat binnekort tot ’n einde sal kom. Hierdie program beloon taxi-bestuurders vir gehaltediens en verbeterde bestuurdergedrag.

Die Wes-Kaapse regering het onlangs aangedui dat hy nie meer die projek kan finansier nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article