Vissers het tot die einde van die maand om al die nodige vorms vir die kleinskaalse vissersregte te voltooi.

Die aansoekproses volg nadat die departement van bosbou, vissery en omgewingsake ’n twee weke lange gemeenskapsmobiliseringsproses in die Wes-Kaap gehou het. Volgens die departement is aansoeke slegs oop vir mense wat in 2016 aan die aanvanklike toekenningsproses vir vissersregte deelgeneem het.

Gemeenskapsleiers en gemeenskapsgebaseerde organisasies het hul kommer met die departement gedeel en dit goedgedink om die ontvangsproses op 5 Desember te begin en op 15 Desember af te sluit ten einde aansoekers genoeg tyd te gee om hul vorms te voltooi.

Die besluit om die aansoekproses vir kleinskaalse vissers se visvangregte te hersien, volg ná die Wes-Kaapse hooggeregshof se beslissing in Augustus. Dié hof het bevind die aansoekproses vir regte wat vir die 2016-’19-tydperk toegepas is, moet hersien word.

Klagtes van vissersgemeenskappe het die akkuraatheid en regverdigheid van die toekenning van die regte bevraagteken. Volgens die departement het 8 488 individue van vissersgemeenskappe destyds belangstelling getoon, maar later is net 2 802 as kleinskaalse vissers verklaar.

Die departement het 109 vissersgemeenskappe van die Weskus tot die Tuinroete besoek om die verifikasievorms uit te deel.

“In die lig van die groot aantal mense wat nie hul verifikasievorms afgehaal het nie, het die departement ’n vergadering met gemeenskapsgebaseerde organisasies gehou en planne aangekondig om ’n ‘Catch-All-week’ van 17 Oktober tot 21 Oktober te hou. Vir dié week het die departement ses sentrale plekke in die vier streke van die Wes-Kaap geïdenti­fiseer en besoek om nog ’n geleentheid aan almal wat dalk nie hul vorms voor­heen afgehaal het nie, te bied,” verduide­lik die departement in ’n verklaring.

Tydens die week was die opkoms swakker as verwag en die departement kon slegs 7% van die oorblywende verwagte gemeenskapslede, wat aan die vorige proses deelgeneem het, bereik.

Die Catch-All-week het dus die proses verleng en die ontvang van vorms is met twee weke verleng tot 30 November.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article