Gurshon Jacobs (voor) saam met sy twee broers, Ruben (links) en Bevan, en hul ma, Andreen.Foto’s: TamrynJae Photography


Dis sowaar ’n droom wat waar geword het vir Gurshon Jacobs.

Dié matriekleerder van die Weskus Skool het Woensdag 26 Oktober die matriekafskeid van sy drome gehad.

As enkelouer van drie seuns is dit nie altyd finansieel maklik vir Gurshon se ma, Andreen Jacobs, nie. Met die hulp van geldelike bystand van mense in hul gemeenskap kon die Jacobs-gesin met trots ’n groot geleentheid in Gurshon se lewe vier.

Gurshon het besluit op ’n Afrika-tema omdat dit hom so na aan sy hart lê. Om sy fotosessie uniek te maak, het Gurshon buite die boks gedink en nie alledaagse strandfoto’s gekies nie, maar die plakkerskamp vir sy foto’s gebruik. Dit het netjies by sy tema ingeskakel.

Wat die dag nog meer spesiaal gemaak het, is die feit dat Gurshon sy gesin deel van die fotosessie gemaak het en die geleentheid met trots met hulle gedeel het.

“Ek het in die covid-tydperk baie geleer oor die belang van families, en my familie was nog altyd daar vir my – deur dik en dun,” vertel Gurshon.

Gurshon sê hy het baie by die Weskus Skool geleer en sal dit altyd saam met hom dra. Dié jongman het groot drome om verder te studeer en ’n sweiswerker te word. “Ek wil ook graag ’n verskil in die plaaslike dorpies maak en my eie onderneming begin.”

Andreen is baie dankbaar “vir alles wat die Here gedoen het”. “Ek gee Hom al die eer.”

Sy het almal bedank vir bydraes wat haar seun se dag onvergeetlik gemaak het. “Alles is moontlik met die hulp van die Here,” voeg sy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article