Die Redelinghuys- nasionale plaaswag (RNFW) het die afgelope paar jaar ’n groot bydrae tot misdaadbekamping in die Weskus gelewer.
Die organisasie bedryf ’n beheerkamer in Redelinghuys vanwaar vrywilligers ’n nommerplaatherkenning-kamerastelsel in die Bergrivier- munisipale gebied en gedeeltes van die Cederberg bestuur.
Tydens noodgevalle koördineer die RNFW tussen die polisie, munisipale wetstoepassing en nooddienste, asook plaaslike buurtwagte en plaaswagte, om doeltreffende reaksie te verseker of ’n voorval te keer voordat dit gebeur. Die organisasie doen ook vrywillige brandbestryding.
Hier is ’n paar RNFW-hoogtepunte in 2022:
. Die RNFW sit gereeld hand by om kabeldiefstal te fnuik. In een van die jongste voorvalle het die RNFW in samewerking met die private veiligheidsmaatskappy Special Security Task force (SSTF) ’n gesamentlike veldtog gehou en Woensdag 16 November ’n groot hoeveelheid gesteelde koperkabel teruggekry. Die koperkabel is op 13 November gesteel. Die kabels wat teruggekry is, weeg 375,5 kg.. Vroeër in November het die RNFW-beheerkamer ’n verdagte voertuig tussen Elandsbaai en Lambertsbaai opgemerk. Verskeie voorvalle het die afgelope twee maande in hierdie gebied voorgekom waar diewe Eskom se kabels gesny en gesteel het. Die plaaslike omliggende polisiekantore, RNFW en SSTF het saamgewerk om die verdagte voertuig, wat uit die gebied probeer wegkom het, ná ’n jaagtog van amper 100km net buite Aurora tot stilstand te bring. Altesaam 822 kg se koperkabel is in die voertuig gevind.. Lede van die polisie, RNFW, SSTF, Swartland se honde-eenheid, die Weskus se landelike blitspatrollie, Bergrivier-verkeer en die provinsiale verkeersdiens het op 30 April ’n padblokkade gereël waar twee mense weens die besit van dwelms in hegtenis geneem en R32 000 se verkeersboetes uitgereik is.. Die RNFW het ook vyf voortvlugtende gewapende rowers tussen Dwarskersbos en Velddrif help vastrek nadat hulle die Skooltjie-padstal op 14 Maart vanjaar in Velddrif beroof het. Die rooftog het helder oordag, skuins ná 12:00, plaasgevind. Die RNFW het dadelik op die noodoproep reageer en die polisie is verwittig. Die motor waarin die rowers gevlug het, is vinnig deur middel van RNFW se kringtelevisiekamerastelsel opgespoor en agterna gesit. Die voertuig is op die Velddrif-Dwarskersbospad tot stilstand gedwing en die verdagtes het die veld in gevlug. Hulle is agternagesit, gevang en in hegtenis geneem.
Help met finansiering van hommeltuie
Die RNFW reik na die publiek uit om hom finansieel te ondersteun sodat die organisasie hommeltuie kan koop.
Volgens Jillian Tredoux, die sekretaresse van die RNFW, kom kabeldiewe dikwels weg wanneer hulle snags na ’n bebosde gebied vlug en daar skuil. Hommeltuie sal help om hierdie boosdoeners vinniger op te spoor sodat verdere kabeldiefstal voorkom kan word. . Skakel 078 063 1278 of 082 329 4409 vir nog inligting of om hulp aan te bied.





