Groot positiwiteit heers onder matriekleerders van 2022 wat hul seniorsertifikaat-eindeksamen skryf.
Volgens Diran Swarts, ’n graad 12-leerder aan die Hoërskool Weston, is hy baie positief en verwag hy niks minder as die beste wanneer dit by sy uitslae kom nie.
Gerhard Strydom van die Hoërskool Velddrif voel ook goed oor die eindeksamen en het aan Weslander gesê dinge het tot dusver “baie mooi afgeloop”. “Ek glo dit sal goed gaan,” voeg hy by.
Die eindeksamen vir matriekleerders vereis toewyding, opoffering en fokus – juis omdat leerders nie heeltemal weet wat om te verwag nie.
Wanneer dit by die uitdagende deel van die hele reis kom, sê Strydom is die mees uitdagende deel die opoffering van vrye tyd, tydbestuur en die harde werk wat die voorbereiding van die eindeksamen vereis – iets waaroor dié twee leerders saamstem. Strydom sê hy laat dit hom nie onderkry nie. “In my studietyd handhaaf ek ’n balans tussen leer en ontspanning, want dis belangrik om jou brein ’n ruskans te gee. Ek het ’n studierooster opgestel om hierdie balans te handhaaf,” vertel hy.
Swarts sê hy het dit werklik geniet om die twee vraestelle – wiskundige geletterdheid en besigheidstudies – waarvoor hy voorberei het, te skryf. “My hoop is om werklik goed te doen en ek is seker ek sal. Ek mik vir onderskeidings in sekere vakke en is seker ek sal dit kry, omdat ek hard daaraan werk. Selfs een onderskeiding sal ’n prestasie wees,” vertel Swarts.
Strydom hoop ook dat al sy harde werk, toewyding en deursettingsvermoë in sy matriekresultate sal wys. “Met die liewe Heer se leiding glo ek die regte deur sal vir my oopgaan en dat die uitslae van so aard sal wees dat ek verder kan gaan studeer.”





