’n Man van Saldanha is Maandag 28 November aan opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind nadat hy vroeër vanjaar Saldanha Spar se deure en vensters beskadig het.
Volgens Kaptein Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskusdistrik, het Micheal Frans (44), ’n inwoner van Diazville in Saldanha, op 3 April met opset die winkel se aluminium deure en vensters ter waarde van R45 000 verrinneweer.
Op die dag van die voorval het ’n opgewerkte Frans glo ’n onderonsie met Spar se veiligheidspersoneel gehad. Frans het uiteindelik uit woede die winkel se deure en vensters gebreek.
Helfrich sê Frans het ook al voorheen met die veiligheidspersoneel by dié winkel slaags geraak.
Hy is ’n opgeskorte gevangenisstraf opgelê.
Tydens die Wes-Kaapse provinsiale polisie se besoek aan Saldanha vir die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders op 28 November, wat ook deur Weslander bygewoon is, het ’n paar inwoners by die polisiekommissaris gekla oor gewoontemisdadigers wat steeds hul gemeenskappe teister omdat die hof glo vonnisse oplê wat volgens hulle te lig is, en ook dat tronkstraf te maklik opgeskort word.



