Verdeeldheid heers steeds oor die Karpowership met sommige Weskussers wat wag op die ekonomiese ontwikkeling wat die projek kan bring, terwyl ander meen die omgewing kan dit nie bekostig nie.
Karpowership SA beoog om drie kragopwekkingsprojekte op die been te bring. Benewens hul planne vir Saldanha, wil hulle nog twee skepe in Richardsbaai en Coega vasmeer om die korttermyngaping in die huidige elektrisiteitsverskaffingsbeperkings die hoof te bied en die gebruik van dieselaangedrewe kragopwekkers te verminder.
Die Turkse maatskappy beoog om 320 MW (415 MW-kapasiteit) in Saldanha op te wek. Die krag word deur middel van petroleumgas deur 24 suierenjins opgewek. Die hitte van die enjins word vasgevang en die krag word gebruik om stoom te maak, wat twee turbines dryf.
Die elektrisiteit sal dan via ’n pypleiding van die Aurora Saldanha Staal-netwerk na die nasionale kragnetwerk gelei word.
Volgens Karpowership se konsepomgewingsimpak-assesseringsverslag sal die projek ’n positiewe impak op die plaaslike ekonomie tydens die konstruksie en operasionele fase hê. “Karpowership sal ’n positiewe rol in die plaaslike ekonomie deur vaardigheids-, ondernemings- en verskaffingsontwikkelingsprogramme speel.
“Die direkte, indirekte en geïnduseerde ekonomiese impak van die projek op indiensneming, inkomste-generering, nuwe produksie en ekonomiese waarde sal positief wees,” lui die dokument.
Talle Weskussers glo egter nie dié vooruitskatting nie.
“Ons is moeg vir leuens. Geen politici het die mandaat om namens ons as die vissersgemeenskap of die Weskus te praat nie. Ons soek nie Karpowership in ons waters nie,” sê Carmen Rodgers.
Rodgers, ’n Langebaner wat haarself as ’n aktivis beskryf, sê onlangse uitlatings van plaaslike sakeforums praat nie vir almal in die streek nie.
Dit volg nadat Karpowership SA op Maandag 21 November ’n inligtingsessie in Saldanha gehou het. Die sessie was deel van hul openbaredeelnameproses. Hier het verskeie plaaslike sakelui hul ondersteuning vir die elektrisiteitsopwekkingsprojek uitgespreek.
Rodgers en ander gemeenskapswerkers meen die werksgeleenthede, wat glo deur die projek geskep gaan word, is net leuens. Claudine Fredericks, ’n gemeenskapsaktivis van Vredenburg, stem saam.
“Karpowership mislei die mense. Hulle praat van werk wat geskep gaan word, maar uiteindelik is dit net selfverryking ten koste van vissers se bestaan,” meen Fredericks.
Die vroue steun ook die omgewingsorganisasie The Green Connection. Green Connection is slegs een van verskeie burgerlike organisasies wat Karpowership SA se planne teenstaan.
Die organisasie beskryf die konsep-assessering as gebrekkig en meen die maatskappy neem nie die impak op die oseaan en klimaatsverandering in ag nie.
Verskeie sakelui meen egter die Weskus het die werkskepping en ekonomiese ontwikkeling nodig, met onder meer die Saldanhabaai Swart Besigheidsvrouevereniging en die Weskus Swart Besigheidsvereniging (BBA) wat hul steun agter die projek gesit het.
“Ons land het sowat 2000 MW nodig om die elektrisiteitsnetwerk te stabiliseer. Suid-Afrika het Karpowership SA nodig. Ons het groot probleme van werkloosheid, armoede, ongelykheid en gebrek aan ekonomiese groei.
“Ons kan nie die algehele ineenstorting van die voorsiening van elektrisiteit bekostig nie. As ons aanhou met beurtkrag, sal ons maatskaplik-ekonomiese probleme in chaos eskaleer en ons reeds hoë vlakke van armoede en werkloosheid sal vererger,” het Sammy Claasen ná die inligtingsessie aan Weslander verduidelik.
Claasen, ’n lid van die BBA, meen die omgewing kan nie altyd bo die behoefte van mense en werksgeleenthede verhewe wees nie.
Volgens Statistiek SA het die munisipale gebied ’n 23,4%-werkloosheidskoers (2011). Inligting van die Wes-Kaapse regering verwys na ’n 17,6%-werkloosheidskoers (2021) wat die hoogste in die Weskus-distrik is. Die kommerwekkende koers is ten spyte daarvan dat Saldanhabaai die grootste Weskus-bydraer tot die bruto binnelandse produk (BBP) is.
Intussen het Karpowership ook hul openbaredeelnameproses in Richardsbaai en Coega voltooi. Die proses volg nadat die departement van bosbou, visserye en die omgewing Karpowership se aanvanklike omgewingsimpakassessering in Junie 2021 verwerp het.
Die publiek het tot 13 Desember om kommentaar oor die projekte te lewer.. Die konsep-assessering kan by https://triplo4.com/Pages/Current-Projects.asp gevind word. Kommentaar oor die Saldanha-projek moet aan saldanhabayksa@triplo4.com gerig word.




