Simon Eksteen (5) van die Karnallies-kleuterskool saam met AO Yolanda Kotze.


Leerders van die Karnallies-kleuterskool het die Saldanha-polisiekantoor Woensdag 30 November besoek.

Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie en wat die kleuterskool se toer deur die kantoor begelei het, is die besoek gereël om die kinders te leer dat die polisie hul vriend is.

“Sommige ouers gebruik die polisie om hul kinders bang te maak wanneer hulle ongehoorsaam is. Hulle sal byvoorbeeld dreig dat die polisie hulle gaan kom toesluit as hulle stout is,” het Kotze verduidelik.

Kotze versoek ouers om nie hierdie negatiewe beeld van die polisie by hul kinders te skep nie.

“Ons wil hê kinders moet met vrymoedigheid na die vriendelike tannies en ooms van die polisie uitreik as hulle in die moeilikheid is of hulp nodig het,” het Kotze bygevoeg.

Karnallies se jongspan is deur die polisiekantoor geneem en op ’n prettige manier gewys hoe ’n werksdag in die lewe van ’n polisieman of -vrou lyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article