Die eerste Laaiplek Hawefees is hier!

Alhoewel dit die eerste is, sê Natasha Tolken, organiseerder van die fees, het die Weskusmense opgestaan, hande gevat en die pad saam met haar gestap om dit ’n realiteit te kon maak.

“Dis hierdie mense wat vir altyd die wortels van hierdie fees sal bly wat ek graag elke jaar sal wil organiseer. Hierdie jaar is klein, maar dis beslis die moeite werd om dit te kom geniet en deel van ons Weskusmense en hul gees te raak.”

Die Laaiplek Hawefees vind plaas van Vrydag 16 tot Sondag 18 Desember by die Laaiplek-hawe en bied baie vir almal aan. Daar sal ’n talentkompetisie wees vir enigiemand wat wil inskryf.

“Ons Weskusmense het baie talent en kry nie die geleentheid om hulself te kan blootstel nie, daarom het ek die geleentheid daarvoor geskep.”

Daar sal ook optredes wees deur Maintain Music, Oom Lou, Stefan le Roux en soveel meer. Om jou voete nog te laat jeuk, sal ’n DJ-span tot middernag vir lekker langarmmusiek sorg.

“So ja, ons gaan dans dat die biesies bewe, of sal ek sê, die vissies vlerkies klap in die hawe.”

Om die kinders te vermaak, is die Weskus se bekende kulkunstenaar ook op die lys van vermaak. Hulle sal ook pret kan hê op die springkastele, ’n waterseil en hul gesiggies kan opmaak met gesigverf – die lys gaan aan.

Moenie dink jy gaan met ’n leë maag daar wegloop nie, die Laaiplek Hawefees gaan ook verskeie kosstalletjies hê.

Tolken verseker dat gaste by die fees ’n unieke Weskus-atmosfeer soos nooit tevore sal beleef en dat die fees met sy propvol program beslis ’n besoek werd is.

“Dit gaan ’n jaar of twee of drie vat om die fees te kry waar ons in ons gemeenskap kan terugploeg. Hierdie kan iets baie groots word en dit kan meer as net verligting bring. Namate die fees groei, kan ’n mens ook dink aan werkskepping.”

Maak seker jy besoek die fees. Kaartjies is beskikbaar by die hek. Kaartjies kos R100 vir volwassenes en R50 vir kinders o.13. Kinders onder 3 kry gratis toegang.

Hekke maak op Vrydag 16 en Saterdag 17 Desember om 09:00 oop en sluit om 00:00. Op Sondag 18 Desember is die hekke oop van 09:00 tot 18:00.

Vir meer inligting, kontak Tolken by 063 809 5180. Indien mense nog stalletjies wil bespreek (wat nie kosstalletjies is nie), kontak Heinrich Smit by 063 211 4767.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article