Die jaar staan einde se kant toe en talle maak gereed om ’n ruskans te geniet. Só ook die Weslander-span, wat vandag die kantoordeur agter hulle toetrek om die jaar in oënskou te neem en oor Kersfees tyd deur te bring saam met geliefdes, wat dikwels aan die spit moet byt wanneer die druk ophoop namate die spertye naderkruip. Die Weslander-span deel graag van hul gunsteling-Kerstradisies.
“ ’n Familietradisie wat al jare in my gesin aankom, is Oukersaand,” vertel Noluvu Ludidi. “Op daardie aand kom die hele gesin bymekaar. Die huis word versier en jy loop daar weg met ’n vol magie. Wat die aand spesiaal maak, is wanneer dit tyd is om geskenke uit te deel. Iemand in die familie trek soos Kersvader aan en maak ’n grand entrance met sy klokkie. As kind was dit ’n baie opwindende tyd; selfs nou as volwassene geniet ek dit steeds. Deesdae het die kinders so slim geword dat hulle al met die instap kan sê dis “oom Piet”, byvoorbeeld, wat die kostuum aan het. Almal sit dan rondom die Kersboom terwyl jou naam uitgeroep word en Kersvader jou geskenk aangee. Die tradisie is al die afgelope 26 jaar deel van my lewe.”
Trish Goosen vertel: “Vandat ek byna drie jaar terug die beroemde seuntjie, wat twee millennium gelede in Bethlehem gebore is, persoonlik ontmoet het, voel ek heeltemal anders oor Kersfees. Hierdie seuntjie, Jesus Christus, die vlekkelose lam wat die wêreld se sonde kom wegneem het, het in die begin van 2020 ook my God geword. Kersfees was nog altyd vir my ’n spesiale tyd van die jaar, maar deesdae is Kersfees ook vir my ’n tyd van nadenking, gebed en dankbaarheid teenoor my Skepper. Iets waarna ek die meeste uitsien vir Kersfees, is alleentyd by Sy voete om gehaltetyd in sy teenwoordigheid deur te bring. Maar ek sien ook soos altyd uit na ons gesin se Kersfeestradisie.
“My ma het my vertel ons gesin se Kersfeestradisie het een jaar begin toe die res van die familie almal ander verpligtinge gehad het en ons gesinnetjie Kerstyd alleen deurgebring het. My ma het besluit om dit so spesiaal as moontlik te maak, al is dit net ons vier. Die paar geskenkies onder die boom het darem net te eensaam gelyk. My ouers het ’n slim plan gemaak sonder om die bank te stroop. Die alledaagse items op my ma se inkopielysie, soos die ekstra hangers wat sy nodig gehad het of nuwe werksokkies vir my pa, is alles in kleurvolle geskenkpapier toegedraai en onder die boom gerangskik. Natuurlik het ek en my sussie die nuwe speelgoed gekry waarvoor ons gevra het, maar daar was ook ’n klomp ander gebruiksitem-geskenke wat ons kon oopmaak. Ons het elke keer geskaterlag as my ma iets soos wasgoedpennetjies oopmaak, wat kammakastig van my pa af kom, maar sy het dit self uitgekies en toegedraai. En my pa is meer verbaas as sy (want sy het al vergeet wat sy alles toegedraai het) om te sien wat in die pakkie is. Die tradisie het begin omdat my ouers nie oor Kersfees alleen wou wees nie, maar in die jare daarna nie regtig weer die aand saam met die res van die familie wou deurbring nie. Kersdag is vir die res van die familie, maar Oukersaand was ons dag. Ons draai steeds ons nuwe tandepaste, braai-brikette, aanrol-deodorant en wie weet wat nog toe en sit dit onder die boom.
“Ons mans en kinders het ook deel van die tradisie geword, maar dis waar dit eindig. Dis ’n ‘eksklusiewe klub’ en jy kom nie sommer in nie.”
Vir Chantell Cornelissen is Oukersaand die tyd vir almal om bymekaar te kom. “Ons speel ’n Secret Santa-speletjie en wag dan tot Kersvader kom. Iewers verskyn ’n sak met geskenke. Kersdag is dit weer net middagete almal saam.”
Kersfeestyd is ’n baie spesiale tyd vir Justin Cupido se familie.
“Oukersaand kom ons almal bymekaar en almal berei hul spesiale geregte vir ’n Oukersaandete voor. Ons speel Kersmusiek terwyl die huis vol kersversierings is met liggies wat oral flikker. Almal het ’n groot afwagting vir Kersvader om sy verskyning te maak om die kinders se geskenke te bring. Dit is natuurlik elke jaar meer van ’n uitdaging om ’n familielid of ’n vriend te kry om hierdie rol van die man in die rooi pak te vertolk namate die kinders ouer word en die vrae meer. Die herinneringe van al die ooms en tannies wat al vir Kersvader moes ‘instaan’ – omdat hy op Oukersaand verskriklik besig is om geskenke af te lewer – word dan laggend herroep, so ook die reaksies van die kinders en herinneringe van ons eie reaksie oor Kersvader toe ons self nog kinders was. Die hoogtepunt bly steeds die samekoms en waardering vir nog ’n Kersfees saam.”
Kersfees as kind in die Brutus-huishouding bring vir Linda Luyt (nooiensvan Brutus) baie goeie herinneringe op.
“Al ons kinders het vir die vakansie in Kuilsrivier, Sarepta, gaan kuier toe ons nog klein was. Ons het ná my tannie se dood nie meer so gereeld gaan kuier nie, maar my pa het ’n nuwe tradisie begin.
“Die Weskus-dorpe het ons nuwe vakansietuiste geword – veral Jacobsbaai en Laingville in St. Helenabaai. Kersdag is kos gemaak en die samesyn met familie en vriende was heerlik. Op 26 Desember is ons altyd strand toe. Kosmandjies is gepak, so ook piekniekkomberse, waatlemoene en spanspek, en koekies was volop.
“Daar was gewoonlik bootjies op Jacobsbaai wat jy kon gebruik om in die vlak waters mee te baljaar. Kinderstemme was oral te hoor en vriende is gemaak met al die ander wat ook Jacobsbaai besoek het. Laatmiddag was gewoonlik weer huistoegaantyd en daardie aand het niemand gewoonlik tot ná 20:00 wakker gebly nie, want almal was pootuit ná die stranduitstappie.
“My pa en ma het die see-ervaringe begin en tot vandag toe kan ons as Brutus-kinders nie van die see af wegbly nie. Sodra dit warm word aan die Weskus, is ons op die strand.
“Dankie, Pa en Ma, dat julle ons as Brutus-kinders ’n erfenis kon nalaat.”





