Liewe Kersvader,

Ek weet dis eintlik net kinders wat briefies aan jou mag skryf en al hul wense vir hierdie jaar se Kersgeskenkies neerpen.

Het jy egter gesien hoe gaan dit hier in Suid-Afrika?

My liewe oom Kersvader, dis ’n geneuk van epidermiese proporsies – soveel so dat ek (en ek glo ’n hele paar ander grootmense) maar besluit het om ook hierdie jaar ons briefies na jou doer in die Noordpool te stuur.

Wil jy tog nie asseblief ook hierdie jaar onse grootmensharte kom bly maak nie? Skiestog as my lysie ekstra lank gaan wees. Dit was maar ’n lang en woeste jaar en dit het sommer ekstra moeite gekos om die begroting met die paar rand in my beursie te laat klop. So erg was dit dat ek die volgende ware staaltjie met jou moet deel:

Ek gaan stap gereeld naweke. ’n Paar weke gelede gewaar ek ’n omie by die dam waar ek gereeld oor naweke verbystap. Hy was besig om vis te vang – daai lekker groot en vet dambabers.

Ek groet hom toe vriendelik en vra of hy darem al ’n paar grotes uitgetrek het. Hy glimlag en sê hy het die vorige naweek ses van die bestes gevang. Hy het al weer vier in sy sak – ook lekker blinkvet – en hy glo hy sal ’n kompetisie sommer loshande wen as hy nou daarvoor moet inskryf.

Uit nuuskierigheid wou ek toe by hom hoor wat hy dan met die visse gaan maak as hy dit klaar gevang het?

My basiese kennis van hierdie soort visvangpret is dat jy die vangs weer teruggooi in die water en slegs ’n paar kiekies neem om die storie van jou groot vangs te vertel. Sy woorde het my heeltemal onkant betrap. “Ek maak hulle lekker skoon en dan is hulle reg vir die kole. Dié wat ek nie self vir ’n ete inspan nie, verkoop ek teen R20 stuk. Dit gaan maar moeilik deesdae en daai paar rand is regtig baie handig.”

Jy kry nou die prentjie, my oom? Dit gaan rof. ’n Mens moet mos darem toesien dat die monde gevoed word, en wraggies, jy moet deesdae se broodpryse hier in ons mooi land kom sien. Ek oorweeg dit al weer om ’n vegetariër te word! Nou, as die brood so duur is, kan jy jou indink hoeveel geld die ander kosgoed my uit die sak jaag? Voordat my treurlied jou tot sterk drank dryf, wil ek jou asseblief my wenslysie vir hierdie Kersfees aanstuur. Moenie bekommerd wees nie . . . ek het die skoorsteen van my huis vanjaar ekstra groot gemaak. Jy weet, ek wil nie hê jou boepmagie moet iewers vashaak nie!

So, jy kan maar al die goedjies mooi netjies onder die Kersboom neersit.

Eerste op my lysie wil ek jou vra of jy nie ’n 20-liter-kan petrol vir Kersfees sal bring nie. En sit sommer vier pinte olie daarby. Jy kan dit sommer deesdae teen ’n laer prys by winkels koop.

’n Lekker groot kos-hamper sal ook nie te versmaai wees nie. Jy weet, die familie kom kuier mos weer tot ná Nuwejaar en daai monde bly pal oop. Sit ’n paar ekstra brode vir die vrate in, asseblief.

Wil jy nie sommer R600 se koopkrag ook bysit nie? Bring vir my ook ’n heel skaap. Moenie worry om die skaap te slag nie; ek sal dit sommer self doen. Ek sal jou daai moeite spaar (is ek nie te oulik nie?) – solank jy dit net saambring. Los die hoender, want, liewe jimmel weet, ek’s al opgeëet aan kiep-goed. Wil nie ondankbaar klink nie, maar wraggies – wat te erg is, is te erg!

As jy nie ’n heel skaap in die hande kan kry nie, sal ’n vark ook doen. Nee, nie die politieke varke nie – ek bedoel ’n regte vark, waarvan ’n mens die paar tjops oor die kole kan gooi. Vleis is verskriklik duur hier by ons en ’n heel skaap of vark sal hierdie Kersfees baie handig te pas kom.

En, as jy nie omgee nie, sal ek dit waardeer as jy vir my ’n kettie onder die Kersboom kan sit. Ek wil net voordat die nuwe jaar aanbreek, daai Eskom-oom in sy maai gaan skiet – daai een wat tydig en ontydig ’n mens se ligte kom afsit. Ek sê jou, ’n mens se moermeter is nou al diep in die rooi; só kan dit nie meer aangaan nie.

Sal jy my grootmenshart hierdie Kersfees met dié paar goedjies bly kan maak, Kersvader? Ek sal dit sóóó waardeer.

O ja, die wit koevert met my naam daarop geskryf is langs die Kersboom. Jy kan maar die paar rand daarin gooi.

Jou pakkie biltong en kopseerpille is ook daar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article