Vier mense het ná ’n botsing op die R27 (Weskuspad) in ’n brandende motor gesterf.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die botsing Maandagoggend 9 Januarie om ongeveer 05:00 in digte mis tussen Langebaan en Yzerfontein gebeur.
Helrich het aan Weslander gesê ’n man, sy dogter, skoonsuster en haar twee kinders was in ’n Volkswagen Golf na Kaapstad onderweg toe ’n voertuig van agter af teen die Golf vasgery het.
Die bestuurder het beheer oor die Golf verloor en dit het van die pad afgery en gerol.
Die motor het aan die brand geslaan en net een van die insittendes kon daarin slaag om uit die brandende wrak te ontsnap.
Die ander vier mense was in die motor vasgekeer en het op die toneel gesterf.
Helfrich sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.
Volgens ’n verklaring van West Coast Medical Rescue (WCMR), wat hulp op die toneel van die botsing verleen het, was die Metro EMS-reddingspan, Saldanhabaai-brandweer en provinsiale verkeersdiens ook almal daar om te help.
“Die pad is dadelik toegemaak om die noodpersoneel se veiligheid te verseker. Die vlamme is geblus, maar ongelukkig het vier slagoffers aan hul beserings beswyk. Een pasiënt is in ’n ernstige maar stabiele toestand na die hospitaal geneem,” lui ’n deel van die verklaring.
WCMR vra motoriste om asseblief versigtig, teen ’n veilige spoed en met die hoofligte aan in mistige weer te bestuur.





