“Die Wes-Kaapse drankowerheid moet geprys word vir die inspeksie van alle gelisensieerde drankpersele die afgelope jaar.”
Só het die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, in ’n persverklaring gesê wat op 11 Janurie uitgereik is.
Volgens die verklaring is 100% van alle gelisensieerde persele in die Wes-Kaap in die afgelope jaar geïnspekteer en sommige drankafsetpunte by meer as een geleentheid geïnspekteer.
Dit was die eerste keer dat die owerheid daarin kon slaag om alle persele te inspekteer.
Meer as 13 000 inspeksies is tussen 22 Desember 2021 en 21 Desember 2022 by die 9 098 gelisensieerde persele uitgevoer, wat teen 1 April 2022 gelisensieer is.
’n Verdere 66 gelisensieerde terreine wat sedert 1 April 2022 geregistreer is, sal geïnspekteer word. Inspeksies kan daartoe lei dat gevalle van versuim om lisensievoorwaardes na te kom vir vervolging ingedien sal word. Potensiële sanksies sluit die uitreiking van waarskuwings, boetes, strenger lisensievoorwaardes en die opskorting of intrekking van lisensies in.
Minister Allen het gesê: “Die poging van die owerheid is ’n duidelike demonstrasie van die toewyding om te verseker dat alle drankhandelaars reg oor die provinsie hul lisensievoorwaardes nakom.”
Allen het verduidelik dat verdere vermybare wetteloosheid dikwels spruit uit gevalle waar dranklisensievoorwaardes nie gehoorsaam word nie.
Volgens die departement se persverklaring wys die tweede kwartaal se misdaadstatistieke vir die 2022’23-boekjaar dat misdaad in die Wes-Kaap direk met drank verband hou en daartoe gelei het dat 16 mense vermoor is, 170 verkrag is en 468 sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer, aangemeld is.
Nie net het die owerheid ’n rol om te speel in die bekamping van hierdie misdade nie, maar hulle moet ook verseker dat gelisensieerde drankafsetpunte in staat is om op ’n verantwoordelike, maar ook winsgewende wyse handel te dryf.
Die inspeksies is moontlik gemaak deur ’n bykomende 24 junior drankinspekteurs wat gedurende die 2021’22-boekjaar aangestel is.
Hulle ondersteun die bestaande 11 senior drankinspekteurs.
Allen het bygevoeg: “Ek is bly om daarop te let dat die ontplooiing van bykomende junior drankinspekteurs hoofsaaklik in die prioriteitsgebiede was waar herhaalde inspeksies uitgevoer word om vlakke van voldoening te monitor, wat minderjarige drinkery en die verkoop van drank aan ongelisensieerde handelaars teiken.
“Verder is ek ingelig dat die owerheid in die toekoms beoog om alle nuut gelisensieerde persele binne drie maande nadat die lisensie uitgereik is, te inspekteer.”
Die bykomende kapasiteit het die volgende impak vir die tydperk 1 April 2022 tot 21 Desember 2022 tot gevolg gehad:
– Geïntegreerde operasies met die polisie en wetstoepassing: 235
– Nakomingskennisgewings uitgereik aan lisensiehouers: 713
– Nie-nakomingsake wat vir vervolging ingedien is: 444
– Aantal lisensiehouers beboet: 193
– Die waarde van die boetes wat uitgereik is: R7,383 miljoen
– Lisensies herroep: 3
– Lisensies opgeskort: 16
– Waarskuwing en of strenger voorwaardes uitgereik: 8
“Ek doen ’n beroep op alle drankhandelaars om aan alle regulasies te voldoen, aangesien dit sal help om beide die skade en misdade wat met drank geassosieer word te bekamp, terwyl dit ook ’n platform bied vir die afsetpunte om ekonomies te floreer en wettig handel te dryf,” het minister Allen afgesluit.





