Die gekleurde deel dui die ontwikkeling aan wat op ’n gedeelte van die plaas 560 in Yzerfontein beplan word.


’n Beplande nuwe ontwikkeling in Yzerfontein word nie deur al die naburige inwoners verwelkom nie.

Die omgewingskonsultant Enviro-Eap het op 9 Januarie ’n skrywe aan inwoners van Yzerfontein gestuur waarin hulle in kennis gestel is van ’n aansoek kragtens die omgewingsimpakregulasies van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur om ’n gedeelte van plaas 560 in Yzerfontein, wat tans vir landbou gesoneer is, te ontwikkel.

Volgens die skrywe word kennis gegee van die openbaredeelnameproses wat deur die grondeienaar van stapel gestuur is. Die beplande gemengdegebruik-ontwikkelingsvoorstel behels onder meer die vestiging van 836 woonerwe, ’n vervoersone, ’n sakesone, ’n groepsbehuisingsone en oop ruimtes.

Die voorgestelde ontwikkeling sal sowat 156,6 ha behels en is toeganklik vanaf die R315, Dasseneilandrylaan en Atlantic-rylaan.

Hoewel sommige inwoners die ontwikkeling verwelkom, is heelwat inwoners van Yzerfontein egter heeltemal gekant teen hierdie aansoek vanweë die groot omgewingskade wat dit moontlik vir die fynbos en natuurlewe kan inhou.

Volgens Ray van der Merwe, een van die besorgde inwoners, het Yzerfontein oor die laaste paar jaar ’n “toevlugsoord vir natuurliefhebbers en omgewingsbewustes” geword en “daar is selfs volstruise wat in die strate rondloop”.

Van der Merwe het aan Weslander gesê Yzerfontein se buurgemeenskappe, soos Langebaan en Darling, het die kapasiteit en bestaande infrastruktuur vir uitbreiding en die behoefte aan bekostigbare behuising nader aan die kommersiële en nywerheidsgebiede.

“Dit het geen sin om ’n geïsoleerde dorpie soos Yzerfontein, wat verder weg van die ekonomiese spilpunt soos Malmesbury lê, uit te brei en te ontwikkel nie. Ons is omring deur van die ongelooflikste fynbos en vleilande en grens aan die Weskus Nasionale Park en Tygerfontein en Jakkalsfontein,” het hy gesê.

’n Groep van Yzerfontein se inwoners het reeds ’n aksiegroep gevorm en individueel as belanghebbende en geaffekteerde partye geregistreer.

“Dit is egter nie genoeg nie. Wat ons vra is ondersteuning van die publiek en die groter Wes-Kaapse, Suid-Afrikaanse en selfs internasionale gemeenskap. Baie van hierdie mense het Yzerfontein oor die jare heen vir naweke en vakansies besoek en het ons klein dorpies se toerismesektor ondersteun. Ons moet dringend bewusmaking van hierdie aansoek skep en almal se ondersteuning vra deur te registreer as belanghebbende en geaffekteerde partye en hul beswaar of bekommernisse op omgewingsmeriete aan te teken. Ons kan dit net wen met hul oorweldigende ondersteuning,” het Van der Merwe gesê.

Mense word genooi om as ’n belangstellende en geaffekteerde party vir die openbaredeelnameproses te registreer, of skriftelik kommentaar aan Enviro-EAP te verskaf. Die ontwikkeling se titel, jou volle naam, kontakbesonderhede en ’n aanduiding van enige direkte sake-, finansiële, persoonlike of ander belange wat jy in hierdie aansoek het, moet asseblief verskaf en volledig beskryf word.

Stuur ’n e-pos-boodskap na admin@enviro-eap.co.za of skakel Nicolaas Hanekom by 076 963 6450.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article