Dis die tyd van die jaar waar die skole begin – ons ouers het graag gesê: “Die kinders gaan weer hok toe!”
Dit is dalk tyd, aan die begin van 2023, om die omgewing en ons kinders se omstandighede in oënskou te neem en te kyk hoe dit moontlik bydra tot uitdagings vir goeie akademiese prestasie.
Dr. Luis Marcos skryf in A silent tragedy in how we are raising our children van die hedendaagse oorgebruik van “technological nannies”, selfone, TV, laptops en dies meer, en hoe dit biologiese ouers se tyd, aandag en omgee by kinders “vervang”. Ander ouers druk weer net R500 in ’n kind se hand dat hy / sy ’n aandjie te gaan geniet, maar asseblief net sonder die ouer se aandag, liefde en gesprek. Die kinders mis uit op aanvaarding, en gevoelens van verwerping tree na vore.
Enkelouers
’n Paar jaar gelede het ’n M-student van my aan enkelouergesinne gewerk. Sy skryf 18,5 miljoen kinders in SA word in enkelouergesinne groot, waarvan 12,5 miljoen Afrikataal-sprekende moeders is. Hierdie moeders moet ongeveer 06:00 in ’n taxi klim om by die werk te kom, en kom ongeveer 18:00 by die huis – waar is die tyd vir skoolwerk, speel en aandag gee aan haar kinders vir wie sy omgee?
Hierdie faktore en vele meer in ons gemeenskap, soos armoede, moeilike verblyf, kragonderbrekings en gesinsgeweld, behoort tog ’n invloed op ons kinders se akademiese prestasie te hê.
My bekommernisse oor die kinders kom al vir jare. Is dit moontlik dat die emosionele ontwrigting ’n bydrae het tot ’n toename in “Ritalin-kinders”, soos baie ouers hulle noem. Wanneer ’n potensiële “Ritalin-kind” met moontlike ADHD (aandagafleibaarheidsindroom) by my aankom, stel ek vier hipoteses vir evaluering:. Is die kind se akademiese vermoë onder druk, en daarom sien ons ADHD-simptome?. Is die kind akademies baie sterk en daarom sien ons ook ADHD- simptome?. Is die kind net emosioneel ontwrig of getraumatiseer, en daarom sien ons ook simptome van “Ritalin-kinders”? (Ritalin is nie noodwendig vir bogenoemde hipoteses bedoel nie.). Laastens, die kind met ADHD as diagnose – is dit dalk moontlik dat ’n klomp kinders onnodig op Ritalin geplaas is nadat net die simptome gediagnoseer is? Dit hou risiko’s in.
Ek lees onlangse in Die Burger “Hoe gemaak met 21-jarige matrikulante?” Verskeie opsies skiet deur my kop. Is dit ’n resultaat van die gebruik om kinders in ons skole “oor te rol na ’n volgende [graad]”?
Is dit kinders wat net eenvoudig nie in ons hoofstroomonderwys suksesvol kan wees nie?
Maar intussen is hier ’n jongmens – gewis nie meer ’n kind nie – wat probeer.
Die oorrolpraktyk hou vele risiko’s in. Baie kinders in laerskool, met moontlike laer potensiaal, word net oorgerol na die volgende graad.
Vir my is verduidelik ’n kind tot en met 14 jaar oud, wat twee keer gedruip het, kan na vaardigheidsonderwys oorgeplaas word.
As dit nie gebeur nie, druip so ’n kind in graad agt en nog ’n keer daarna, en voel onsuksesvol in die skool. Soveel van hulle loop in die samelewing rond of sukkel op 21 jaar om graad 12 te probeer slaag.
Ons behoort terug te keer na potensiaal-evaluasie in die laerskole om soveel meer leerlinge se skoolloopbane beter te bestuur.
Ouers, kyk asseblief meer krities hoe word u kind met sy of haar potensiaal geëvalueer en bestuur dit.
’n Artikel in Rapport lui “Graad R: Meer speel as leer, asseblief!”
Dit klink mooi, maar tog ’n bietjie onrealisties! As ons kyk na ons ouers en kinders se omstandighede, hoeveel kinders byvoorbeeld sit en eet nog aan ’n tafel? Die meeste skole vereis ’n graadeenkind wat 45 tot 90 minute aan ’n tafel op ’n stoel moet kan sit – waar moet die kind dit leer as hulle in graad R hoofsaaklik behoort te speel?
Ek sien baie van ons kinders tel eerder op hul vingers as om elementêre berekeninge in hul kop te doen – maar dis tel, nie wiskundige vaardighede nie! Baie van ons kinders in graad R leer nie “om te luister, om instruksies te onthou om hierna die taak te gaan doen” nie, want hulle kyk TV. Niemand weet wat hulle onthou nie, en speel gaan dit nie vir hulle leer nie. Tog verkies juffrou of meneer dit in graad een.
eie potensiaal
Ons sal die uitdagings van ons kinders se omstandighede meer in die prentjie moet bring.
Alle kinders kan net volgens hul eie potensiaal presteer.
Dis tyd om ons foute op die tafel te sit, want ons kinders ly daaronder.
Laastens, ons onderwysers het ’n kurrikulum om te volg en kan nie vir al die ad hoc-uitdagings die hand opsteek nie. Hulle, die kinders en ouers kort ons hulp.
Ek luister na ’n program Maths Mothers, ontwerp vir die Weskus. Dit genees die ma’s sonder werk van hul trauma deur TRE (Trauma and Tension Release Exercises), voed hulle op ten opsigte van ouerskap en leer hulle hoe om hul kind te bereik. Hulle is al suksesvol by 20 skole in die Skiereiland betrokke.
Ons kan reeds help met potensiaal- meting, loopbaanleiding en TRE – dis ’n begin.
Kom ons vat hande om ons onderwysers te help om vir ons kinders ’n meer suksesvolle 2023 te gee. . Dr. Gielie van Dyk is ’n kliniese sielkundige van Vredenburg. Kontak hom gerus by 022 714 1101 of stuur e-pos aan gvdyk@mylan.co.za.





