Die gewilde jaarlikse Wesbank-Super Spar-Castle-7’s-toernooi vind hierdie naweek – Vrydag en Saterdag 27 en 28 Januarie – plaas.

Duisende ondersteuners sal na verwagting vir dié jaarlikse skouspel na die Wesbank-sportterrein in Alfastraat, Malmesbury, stroom.

Die organiseerders het twee nuwe byvoegings ingesluit – netbal en vroue-rugby sal vir die eerste keer deel van die 2023-toernooi wees.

Die toernooi, met prysgeld van R60 000, lok jaarliks klubs en toeskouers uit alle dele van die land en selfs uit Namibië na die Swartland.

Die plaaslike spogklubs van Malmesbury – Roses (2022-kampioen) en sy buurklubs Darling, Mamre, Hamlets, Moorreesburg en Piketberg en drie Namibiese teenstanders – kan strawwe teenstand verwag van St. George’s, Strand, Maccassar, Hopefield, Villiersdorp en ander spanne wat reeds hul deelname bevestig het.

Marius Schoeman, die akademie­breier, het die 2022-toernooi gebruik as verkennings­fondasie vir die SA 7’s-akademie met die ondersteuning van die huidige Blitsbok-afrigter, Sandile Sticks Ngcobo, met die doel om spelers te identifiseer wat later deel van die Blitsbokke se ontwikkeling sal word.

Shilton Van Wyk en Jayden Baron is huidige Blitsbok-spelers wat indruk by die toernooi gemaak het voor hulle na die nasionale sewesspan opgeroep is.

Die 7’s-toernooi is in twee afdelings verdeel – die uitdaag- en die premierbeker. Die uitdaagbeker begin Vrydagaand met klubs se tweede spanne, tesame met klubs van die Bolandse streekuitdaag- en gemeenskapskild.

Netbal en vroue-rugby is vanjaar die eerste keer deel van die toernooi en die organiseerders sien uit na opwindende wedstryde, veral deur netbalspanne. Met die 2023-Wêreldbekernetbaltoernooi in Suid-Afrika om die draai, hoop die organiseerders om die gewildheid van netbal onder klubs verder aan te wakker.

Agt vrouerugbyspanne van die WP, Boland, Griekwas en ’n moontlike Namibiese span gaan mekaar Saterdag pak, terwyl 16 netbalspanne mekaar op die netbalbane aandurf.

Alle eindstryd-wedstryde word Saterdag beslis en ’n kragmeting soos min kan onder die topspanne verwag word.

Eduann Howburg, die toernooi-direkteur, sê alle plekke is reeds gevul.

Klubs wat die sperdatum op 14 Desember misgeloop het, sal op ’n gereedheidsgrondslag geplaas word mits enige van die bestaande spanne hulle aan die toernooi onttrek.

Die toernooi-bekendstelling en -loting het Dinsdag plaasgevind. Vir navrae stuur e-pos aan Howburg by Eduann.Howburg@capetown.gov.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article